NUUS: 3 Februarie 2010 om 11:00

Die nuus om elfuur:

 Een mens is blykbaar dood toe ‘n ligte vliegtuig vanoggend in Pretoria-Noord teen ‘n heuwel vasgevlieg het. Besonderhede is nog skraps, maar ‘n passassier het volgens berigte die ongeluk in Akasia oorleef. Dit is nog nie seker hoeveel mense op die vliegtuig was nie. Paramedici sê hulle kollegas het gesukkel om die onherbergsame gebied te voet te bereik.  

*** Die veroordeelde kinderseks-oortreder, Cezanne Visser, se regsverteenwoordiger  advokaat Johann Engelbrecht sê  hy beoog om volgende week in die hooggeregshof in
Pretoria aansoek te doen dat die getuienis in Dirk Prinsloo se verhoor in
Belo-Rusland as versagtende omstandighede in Visser se saak toegelaat word.
Visser verskyn weer op 8 Februarie in die hof wanneer haar advokaat  sal begin om deskundiges se getuienis ter versagting van haar vonnis aan te bied.
Visser is vroeër skuldig bevind weens onder meer die onsedelike aanranding van kinders en bedrog.

*** ‘n 18-jarige student van Stellenbosch in die Boland het wonderbaarlik oorleef
nadat haar lugpyp die naweek in ‘n perdry ongeluk by die Paarl geskeur is.
Charné Snyman, wat nog in die waaksaal van ‘n kliniek  behandel word, sukkel ook om
te praat omdat ‘n senuwee van haar stembande beskadig is.
Sy en ‘n vriend het Saterdag op die plaas De Hoop in die Paarl perd gery toe ‘n
draad van ‘n wingerdpaal haar keel getref het.

***Die veroordeelde dwelmhandelaar, Glen Agliotti se verhoor in verband met die
mynmagnaat, Brett Kebble se dood, sal vandag in die hooggeregshof in Johannesburg
voortgesit word.
Kebble is in 2005 in Melrose in Johannesburg doodgeskiet.
Agliotti, ‘n voormalige besigheidsvennoot, sal na verwagting pleit op aanklagte van
moord en sameswering om moord te pleeg.

***Bewyse dat president Jacob Zuma en Sonono Khoza, die vermeende ma van sy
liefdeskind, reeds ingevolge  gewoontereg getroud is is glo aan ‘n dagblad  gestuur.
In die dokument, wat glo  ‘n afskrif van hul aansoek vir ‘n geboortesertifikaat vir
hul dogter is, staan daar ‘ja’ langs die
vraag of die ouers van die kind met mekaar getroud is.
Die betrokke dokument is glo ook deur Zuma en Khoza geteken.
***Die Suid-Afrikaner Phil Young wat in Afganistan vyf jaar tronkstraf opgelê is vir
die skietdood van ‘n Afgaanse veiligheidswag , is voornemens om appél teen sy vonnis
aan te teken.
Sy broer Pat sê hy wag in die stadium op ‘n skriftelike kopie van die uitspraak
voordat hulle kan besluit wat om verder te doen.
Young is in hegtenis geneem nadat hy in September verlede jaar in Lasjkar Gah ‘n
ondergeskikte Afgaanse veiligheidswag uit noodweer geskiet het nadat dié glo eerste
op hom geskiet het.

***Die direkteur van die Amerikaanse nasionale intelligensie agentskap, Dennis
Blair, sê die kanse is baie goed dat terroriste binnekort weer ‘n terreur-aanval in
Amerika gaan uitvoer.
Die hoofde van die groot intelligensie-agentskappe in die VSA het aan ‘n
senaatskomitee gesê dat nog ‘n terreuraanval in die komende paar maande verwag kan
word.
Die CIA sê die al Kaïda terreurgroep besig is om sy metodes aan te pas om dit
moeiliker te maak om sy komplotte te ontbloot.

***’n Man is in Malawi in hegtenis geneem omdat hy plakkate ten gunste van gay-regte
opgesit het.
Die Malawiese polisie sê hulle is opsoek na ander Malawiërs wat vermoedelik met
buitelanders in die veldtog saamwerk.
Daar is huidiglik ‘n debat aan die gang oor gay-regte in die konserwatiewe sentraal
Afrikaland.

***’n Amerikaanse egpaar is deur ‘n jurie aan strafregtelike nalatigheid skuldig
bevind na aanleiding van die dood van hul 16-jarige seun in 2008.
Jeff en Marci Beagley  het vir hul seun, wat ‘n urienweg-infeksie gehad het, gebid
maar nagelaat om mediese behandeling vir  hom te kry.
Die egpaar wat  lede van die sekte, Followers of Christ,  in die stad Oregon is, sal
later vandeesmaand gevonnis word.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 43, ‘n Britse pond 11 rand
92 en ‘n Euro 10 rand 39 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom eenduisend-121 dollar 47 per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-587 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 76 dollar 56 sent per vat.

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.

Leave a Reply