NUUS: 30 Maart 2010 om 08:00
# Die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti, het boere gewaarsku om saam te werk om ‘n krisis af te weer wat hy beskryf as erger as dié in Zimbabwe. Hy het in ‘n televisie-onderhoud gesê swart Suid-Afrikaners wil hê landbougrond moet genasionaliseer word omdat dit hulle tydens die apartheidstryd beloof is. Die minister sê mense eis drastiese grondhervorming, en hy stem saam met hulle. Sy uitspraak volg op weke van omstredenheid nadat die departement se strategiese plan bekend gestel is, wat volgens waarnemers op nasionalisering neerkom.
# Die masel-sterftesyfer in die Wes-Kaap het tot dertien gestyg. Die meerderheid slagoffers is babas. Verpleegkundiges en werkers by gesondheidsinstellings berei nou voor vir volgende maand se massa-inentingsveldtog waartydens ‘n duisend mens ingeënt sal word. Die masels-afsonderingsaal in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad is met nog agtien beddens uitgebrei. Die provinsiale minister van Gesondheid, Theuns Botha, sê die Somerset-hospitaal se afsonderingsale is ook vol.
Slenkdalkoors het intussen ook na die Wes-Kaap versprei, ondanks die strategiese toediening van 40-duisend dosisse entstof in die omgewing van Murraysburg in die Karoo. Die siekte is by Beaufort-Wes ontdek. Die provinsiale Landboudepartement sê die staatsveearts wat die karkasse van diere ondersoek het wat aan slenkdalkoors gevrek het, het vermoedelik ook besmet geraak. Hy is in ‘n bestendige toestand onder mediese toesig by die huis.
# Die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika het ‘n beroep op die ANC gedoen om die leiding te neem met versoening in die land. Dit volg ndat die regerende party aangekondig het dat hy gaan appelleer teen verlede week se Hooggeregshof-beslissing dat die sogenaamde strydlied “Skiet die Boere” op haatspraak neerkom. AGS se president, Isak Burger, sê die ANC moet die besluit aanvaar en voortgaan met versoeningspogings. Hy sê deur daarteen te appelleer stook die party net die vure van rasse-polarisasie aan:
# Cosatu sê die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, behoort haar uitvoerende gesag se salarisse te beperk net soos sy hulle besteding aan amptelike voertuie ingeperk het. Woordvoerder Tony Ehrenreich sê die vakbondfederasie verwelkom die provinsie se plan om sy eie laebegrotings-ministershandboek te skryf wat besteding aan voertuie bestuur. Die Wes-Kaap behoort egter ook die buitensporige salarisse van openbare ampsdraers te hersien. Ehrenreich sê dit behoort burgemeesters, premiers en ander verteenwoordigers in te sluit.
# Roofgebruike is steeds aan die toeneem in Frankryk, ondanks streng wetgewing wat verlede jaar deurgevoer is. Die land het in Oktober op roofmusiek en -rolprente toegeslaan, maar kenners sê dit word nie afgedwing nie. Die wetgewing behels ‘n drieledige straf teen onwettige aanlyn-bedrywighede, met gewoonte-oortreders wat van die internet afgesny word, swaar beboet of tronkstraf opgelê word. Mariana Vos het die besonderhede:
# Gholf: Ernie Els van Suid-Afrika is weer stewig op die wenpad met sy tweede PGA-toernooioorwinning in ‘n ry. Hy het die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi in Orlando, Florida, met twee houe gewen nadat hy die aanslag van Kevin Na van Amerika en die Italianer Edoardo Molinaro afgeweer het. Els het die toernooi voltooi in 277 houe, elf onder syfer.
# En geldsake: Die rand verhandel tans teen 7 rand-39 teen die dollar, 9 rand-97 teen die euro en 11 rand-6 sent teen die pond. Die goudprys is duisend-110 dollar-5 sent per fynons en Brent ruolie kos 80 dollar-31 per vat.
Dit is die einde van die nuus, saamgestel deur NuusFlits Nuusagentskap