NUUS: 30 November om 08:00

Die nuus om agtuur:

***Twee Mosambiekse rowers wat ‘n padstal naby Brits in Noordwes beroof het, is dood toe die motor waarin hulle en nog drie ander landgenote was tydens ‘n jaagtog in ‘n muur vasgejaag het.
Die drie rowers wat beseer is, is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens en gesteelde geld.

*** ‘n Motorfietsryer is dood toe hy op die N-2 naby Amanzimtoti suid van Durban reg van voor teen ‘n bakkie gebots het.
Netcare 911 se Jeff Wicks, sê die bakkie het mense na ‘n kerkdiens vervoer toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Die ongeluk was vermoedelik aan gure weer te wyte.

***’n Agtienjarige man sal na verwagting vandag in die Vereeniging landdroshof verskyn in verband met die moord die naweek op ‘n 23-jarige man van Sharpeville aan die Vaal Rand.
Die verdagte het glo die man tydens ‘n rusie oor bier met ‘n mes doodgesteek.
Die man is op die toneel aan vyf steekwonde dood.

***Vier polisiebeamptes is doodgeskiet tydens ‘n aanval naby ‘n lugmagbasis in die Amerikaanse deelstaat Washington.
‘n Man het na berig word ‘n koffiewinkel binnegegaan en op die vier
polisiebeamptes geskiet.
Die voorval het naby die McChord-lugmagbasis in Tacoma plaasgevind.

*** Drie Spaanse hulpwerkers is na berig word gister in die Wes-Afrikaland Mauritanië ontvoer.
Die drie, twee mans en ‘n vrou, op die pad tussen dié land se hoofstad, Nouakchott en die stad Nouadhibou deur gewapende mans ontvoer.
Die hulpwerkers is vermoedelik deur al-Kaïda vegters ontvoer.

***Die verhoor van John Demjanjuk wat daarvan aangekla word dat hy gehel p het om meer as 27-duisend Jode by ‘n Nazi doodskamp tydens die Tweede Wêreldoorlog te vermoor begin vandag in die Duitse stad München.
Die 89-jarige Demjanjuk is vroeër vanjaar uit die VSA gedeporteer.
Hy het ontken dat hy ‘n kampwag op Sobibor in Pole was.

***Dit gons in gholfkringe oor die voorval Vrydag waarin die top gholfspeler Tiger Woods gesigbeserings opgedoen het.
Gerugte doen die ronde dat Woods se vrou Elin hom met ‘n gholfstok bygedam het oor sy beweerde verhouding met ‘n kelnerin.
Woods het intussen sy stilte verbreek en ontken dat sy vrou saam met hom was toe hy in ‘n paal in Isleworth, Florida vasgery het.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 38, ‘n Britse pond 12 rand
22 en ‘n Euro 11 rand 11 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom 1,166 dollar 10 sent per fynons verhandel en platinum
teen eenduisend-445 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 77 dollar 4 sent per vat.

***Die hoofnuus vroeër vanoggend was dat minstens elf mense die afgelope naweek in
padongelukke op Suid-Afrikaanse paaie dood is terwyl tagtig ander beseer is.
Talle van die ongelukke in KwaZulu-Natal was aan gure weer te wyte.
Minibus taxi’s was betrokke by talle van die ongelukke, veral in Gauteng en
KwaZulu-Natal.
In Gauteng is vier mense in twee afsonderlike ongelukke dood waarby minibus taxi’s
betrokke was.


Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.

Leave a Reply