NUUS: 30 Oktober om 08:00
Vrydag 30 Oktober 2009
Die Nuus om Agt
*** Die vakbond, Solidariteit, het gewaarsku dat werksverliese teen die vierde kwartaal die een-miljoen-kerf kan verbysteek.
Meer as 770-duisend werknemers het reeds hulle werk verloor sedert die begin van die ekonomiese afswaai.
Volgens Solidariteit-woordvoerder Jaco Kleynhans is die ergste vlakke van
werksverliese sedert die begin van die ekonomiese afswaai, in die afgelope kwartaal aangeteken.
Hy sê daar is kommer dat die komende maande sal voortgaan om ʼn donker prentjie van werksverliese te skets.
*** Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bekende egpaar en eienaars van ’n gewilde eetplek naby Sabie in Mpumalanga nie.
Leon en Hetta Steyn van die Artist’s Café by die ou Hendriksdal-spoorwegstasie sowat 35 kilometer van Nelspruit af is gisteroggend in hulle huis met ’n R5-aanvalsgeweer doodgeskiet. Die twee moordenaars het te voet van die toneel af gevlug.
*** ‘n Sestienjarige skoolseun het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg 10 jaar tronkstraf asook ‘n opgeskorte vonnis van 10 jaar vir die moord op ‘n onderwyser gekry.
Die opgeskorte vonnis is op voorwaarde dat hy sekere rehabilitasiekursusse voltooi én sy matriek klaarmaak. Die seun is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en ontvoering nadat hy en ‘n paar vriende die onderwysser, Arnold Thenjwayo, ontvoer, met ‘n mes doodgesteek en sy motor gesteel het.
*** Die babamoordenaar Dina Rodrigues se appèlaansoek teen haar vonnis van lewenslange tronkstraf is in die Wes-Kaapse Hooggeregshof geweier.
Rodrigues dien lewenslange tronkstraf uit nadat dié hof vroeër bevind het sy het vier mans gehuur en tien-duisend rand betaal om die ses maande oue baba Jordan Leigh Norton op 15 Junie 2005 koelbloedig te vermoor.
Rodrigues en haar medebeskuldigdes het in Julie vanjaar ’n appèlaansoek voor ’n volbank regters ingedien.
*** Die Universiteit van die Vrystaat sê gister se gesprek tussen die universiteit en ’n afvaardiging van die ANC-jeugliga en die studenteorganisasie Sasco het in ’n gees van wedersydse respek verloop.
Die universiteit sê in ‘n verklaring die president van die jeugliga, Julius Malema, het die oopdeur-beginsel vir onderrig gesteun, maar konkrete en sinvolle voorstelle gemaak oor hoe dit kan geskied, en veral oor die belang van korrektiewe maatreëls waarmee volle heropname van die Reitz-vier tot die universiteit gepaard moet gaan.
Malema het ook die universiteitsbestuur se besluit verwelkom om die vyf werkers in die Reitz-video aan te hoor oor ’n pad vorentoe en oor die aanpassing van hulle werks-toestande.
*** Europese leiers kon nie ‘n ooreenkoms bereik oor finansiële hulp aan
ontwikkelende lande vir die bekamping van klimaatsverandering en die gevolge wat dit vir dié lande inhou nie.
Regsverteenwoordigers van die Europese Unie het opdrag gekry om oornag aan ‘n nuwe voorstel te werk.
Lande in Sentraal- en Oos-Europa is onwillig om ander lande soos Brasilië en Sjina te finansier omdat hulle nie as armer as die armste lande in Europa gereken word nie.
** Die nuwe veeldoelige stadion op die Groenpunt-meent sal as die Kaapstad-stadion bekendstaan.
Die Kaapstadse stadsraad het die nuwe naam gister op sy maandvergadering bekragtig.
Die Engelse en Xhosa-vertalings van die naam geld ook.
*** Finansiële nuus: Die rand verhandel op 7 rand 74 sent teenoor die dollar, op 12 rand 82 sent teenoor die pond en op 11 rand 50 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,048 dollar per fynons en platinum teen 1,332 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar 19 sent per vat.
…..………………………………………………………..…………………………..…………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.