NUUS: 30 Oktober om 11:00

Vrydag 30 Oktober 2009

Die Nuus om Elf

***  Die uitvoerende hoof van Gold Fields, Nick Holland, sê Eskom se
beplande 200-persent tariefverhogings kán en moet gekeer word.

Hy sê dit is onmoontlik om te sê hoe groot die uitwerking van verhoging sal
wees, maar dit sal beslis verwoestend wees.

Sake 24 berig dat Holland opdrag gegee het dat navorsing gedoen word om die algehele ekonomiese uitwerking van die beoogde kragtariewe te probeer
vasstel. Volgens hom moet alternatiewe finansiering vir Eskom se kapitaalbesteding gevind word.

Holland sê dit is ’n nasionale kwessie en nie net Eskom se
verantwoordelikheid nie. Die regering het ’n rol om te speel as Eskom se enigste aandeelhouer en hy hoop die regering neem ‘n verantwoordelike besluit.

***  Twee vroue is dood en nog twee ernstig beseer toe hulle motor op die
R61 tussen Tarkastad en Queenstown in die Oos-Kaap omgeslaan het.

Hulle was vermoedelik na Kaapstad onderweg. Volgens die polisie het die bestuurder van die motor vermoedelik beheer oor die voertuig verloor. 

***  Drie Germistonse polisiebeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle klere ter waarde van twee-komma-vyf miljoen rand gesteel het, is op borgtog van twee-duisend rand elk vrygelaat.

Die saak teen hulle is in die landdroshof in Germiston tot 25 November
uitgestel. Die polisiemanne is ná ‘n wenk gearresteer in verband met die verdwyning van 685 bokse klere van ‘n vragmotor wat Maandagaand in Heidelberg gekaap is.

Niks van die klere, wat in ‘n vraghouer op die lorrie was, is al teruggevind
nie.

***  Al nege insittendes van ‘n taxi is dood toe die voertuig ‘n bom in die
pad in die ooste van Afganistan getref het.

Volgens die polisie was die slagoffers, insluitend ‘n kind, na ‘n mark op
pad toe die ontploffing die taxi uitmekaar geruk het.

***  In die noordweste van Pakistan het militantes ‘n hoërskool en ‘n
kliniek in die lug geblaas.

Militantes het die afgelope paar jaar byna 200 skole – hoofsaaklik
meisieskole – in dié gebied verwoes.

Die owerhede het verlede maand skole regoor Pakistan gesluit ná ‘n
selfmoord-aanval op ‘n universiteitskampus in die hoofstad, Islamabad. Hoewel die meeste skole Maandag heropen is, was verskeie privaatskole nog dié week gesluit.

***  Uit Los Angeles word berig dat tot nege mense vermis word nadat ‘n
kuswag-vliegtuig en ‘n militêre helikopter gisteraand aan die kus van
Suid-Kalifornië gebots het.

Reddingspanne fynkam die gebied sowat 110 kilometer wes van San Diego vir moontlike oorlewendes.

***  Gholf:  Ernie Els was in die gesamentlike tweede plek ná die
reën-ontwrigte eerste ronde van die Singapoer Ope.

Hy het 67 houe houe gespeel – een hou swakker as die voorloper, Ian Poulter van Engeland.

***  Finansiële nuus:  Die rand verhandel op 7 rand 76 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 85 sent teenoor die pond en op 11 rand 51 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,045 dollar per fynons en platinum teen 1,330 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 63 sent per vat.

 
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply