NUUS: 30 Oktober om 13:00

Vrydag 30 Oktober 2009

In die Nuus om Een

**  Rowers skiet Pretorianer in sy huis dood,

**  Afrika-bemiddelaars probeer om die jongste politieke krisis in Zimbabwe op te los, EN

**  Groen lig vir Johan Botha nadat sy boulaksie weereens onder verdenking was.

***  Gewapende rowers het gisteraand ‘n man in sy huis in Hercules in
Pretoria doodgeskiet. Polisiewoordvoerder Patricia Simelane sê twee gewapende mans het die huis omstreeks elfuur gisteraand binnegegaan.

Die slagoffer, wat saam met sy vrou in die huis gebly het, is in die bors
geskiet toe hy die inbrekers gekonfronteer het. Die moordenaars het die vrou se selfoon gevat en gevlug.

***  Bemiddelaars van Afrika gaan vandag met Zimbabwe se president Robert Mugabe en die eerste minister, Morgan Tsvangirai, vergader in ‘n poging om die land se eenheidsregering te red.

Dit volg nadat Tsvangirai se MDC-party sy samewerking met die regering twee weke gelede opgeskort het uit protes teen die arrestasie van Roy Bennett wat deur Tsvangirai as adjunk-minister van landbou benoem is.

‘n Span van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het Woensdag in Harare aangekom om te probeer om die dooiepunt te probeer oplos.

Die bemiddelaars, onder leiding van Mosambiek se minister van buitelandse sake, Oldemiro Baloi, het reeds gister met onderhandelaars van die twee hoofpartye beraadslaag.

***  Die uitvoerende hoof van Eskom, Jacob Maroga, het ontken dat die
kragvoorsiener se raad hom gevra het om te bedank.

Eskom-amptenare kon nie ’n mediaberig bevestig dat die raad Maroga gevra het om te bedank nie.

Volgens ‘n berig in Business Day vanoggend het die minister van Openbare
Ondernemings, Barbara Hogan, glo ’n anonieme brief ontvang van ’n groep
senior werkgewers wat Maroga se bedanking eis. 

***  Die Filippynse hoof-eiland, Luzon, word weereens deur ‘n kragtige
tifoon bedreig.

Tifoon Mirinae sal na verwagting die eiland voor dagbreek môreoggend bereik en alle veerbootdienste is opgeskort, terwyl skole gesluit en die weermag op ‘n gereedheids-grondslag geplaas is. Dit is die derde kragtige tifoon wat Luzon in net meer as ‘n maand sal tref.

***  ‘n Kragtige aardbewing, wat ses-komma-agt op die Richterskaal
geregistreer het, het Japan se suidelike kusgebied vandag getref.

Daar was geen onmiddellike berigte oor skade of ongevalle nie. Die Japanse Meteorologiese Agentskap sê daar is ook nie ‘n gevaar van ‘n tsunami nie.

Die episentrum van die aardbewing was aan die kus van Amami Oshima-eiland, sowat een-duisend-300 kilometer suidwes van Tokio.

***  Krieket Suid-Afrika het Johan Botha en Rusty Theron vandag die groen
lig gegee om met hulle boulery voort te gaan.

Die twee is dié week as voorsorgmaatreël aan toetse onderwerp nadat die
skeidsregters bedenkinge oor hulle boulaksie in die onlangse
SuperSportreekswedstryd tussen die Dolphins en die Warriors gehad het.

Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Gerald Majola, sê hulle is tevrede
met die voorlopige uitslae van die toetse en dat Botha en Theron se
boulaksie binne die voorgeskrewe riglyne is.

Albei sal vanaand vir die Warriors in hulle MTN40-wedstryd teen die Dolphins in Durban speel.

***  Gholf:  Die Sweed, Daniel Chopra, is met ‘n telling van sewe onder
syfer, die vroeë voorloper in die tweede ronde van die Singapoer Ope.

Ernie Els, wat ná die reën-ontwrigte eerste ronde op vier onder syfer in die
gesamentlike tweede plek was, het nog nie in die tweede ronde afgeslaan nie. Hy is tans in die gesamentlike sesde plek.

James Kingston en Charl Schwartzel, wat reeds die tweede ronde voltooi het, is in die samentlike 15de plek op twee beter as syfer.  

***  Finansiële nuus:  Die rand verhandel op 7 rand 68 sent teenoor die
dollar, op 12 rand 69 sent teenoor die pond en op 11 rand 40 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,045 dollar per fynons en platinum teen 1,327 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 61 sent per vat.
 
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply