NUUS: 4 Februarie om 11:00
Die Nuus om Elf
………………………………………………………………………………..
…..
*** Die Inkatha Vryheidsparty se hofsaak teen president Jacob Zuma se
versuim om die afgelope ses jaar aan meer as 380 presidensiële kwytskeldings van die party aandag te gee, word vandag in die Konstitusionele Hof aangehoor.
Die party het die hof versoek om Zuma te dwing om binne ‘n maand oor hulle aansoeke te besluit.
Dit volg nadat die Konstitusionele Hof in September verlede jaar beslis het
dat die president, en nie die minister van Justisie nie, vir die vertraging
verantwoordelik gehou moet word.
Altesaam 384 IVP-lede probeer sedert 2003 om presidensiële kwytskelding vir moorde en ander oortredings wat as polities-gemotiveerde misdade beskou word, te kry.
*** Die ANC-jeugliga sê die jongste hoofstuk in president Zuma se sekslewe
behoort nou afgesluit te word.
Die liga sê in ‘n verklaring hy verwelkom die verklarings deur die ANC en
Zuma oor die private aangeleentheid.
Hy hoop ook die media sal nie voortgaan met hulle sensasie-soekery rondom die hele besigheid nie.
Die liga gaan ook geen verdere medianavrae oor die privaatlewe van die
president, die ANC of die land aanvaar nie.
*** Twee natuurreservate langs die Vaalrivier in Noordwes is weens die
afgelope tyd se oorstromings gesluit.
Die uitvoerende hoof van Noordwes se Parke- en Toerismeraad, Allan Losaba, sê die Bloemhofdam-reservaat en die Wolwespruit-natuurreservaat is tot verdere kennisgewing gesluit.
By die Wolwespruit-reservaat is groot skade aan toeganspaaie, visvanggebiede en kampeerterreine aangerig.
*** Die owerhede in Haïti sal vandag besluit of tien lede van ‘n
Amerikaanse kerkgroep aangekla gaan word nadat hulle probeer het om ‘n groep
kinders sonder die nodige dokumente uit die land te neem.
Die Amerikaners is die naweek in hegtenis geneem toe hulle probeer het om 33
kinders van tussen twee maande en 12 jaar oud per bus oor die grens na die
Dominikaanse Republiek te neem.
*** Krieket: Suid-Afrika sal weer die eerste plek op die wêreldranglys
beklee indien hy Indië in albei komende toetse klop.
Die eerste toets begin oormôre in Nagpur.
Indien Suid-Afrika net een van die toerse wen, sal albei spanne bo-aan die
ranglys wees met 123 punte.
Graeme Smith het in Nagpur gesê dit is moeilik om ‘n reeks in die
sub-kontinent te wen, maar Suid-Afrika het sy laaste reekse teen Pakistan en
Bangladesj gewen en die reeks op sy laaste besoek aan Indië in 2008 met
een-elk gedeel.
*** Die voormalige Springbok-heelagter, Bevin Fortuin, is behou as kaptein
van die SWD-Arende vir die komende seisoen.
Afrigter Johann Lerm sê Fortuin sukkel nog met ‘n beenbesering en sal eers
oor ‘n maand in aksie wees.
Hy en die gewese veelsydige Springbok-agterspeler, Gaffie du Toit, wat ook
nog met ‘n besering sit, sal nie vir die Arende se twee vriendskaplike
wedstryde op 10 Februarie teen Griekwas op Oudtshoorn en op 13 Februarie
teen die Westelike Provinsie op Swellendam beskikbaar wees nie.
*** Nog rugbynuus is dat die voormalige Australiese vleuel, Lote Tuqiri,
weer na rugbyliga teruggekeer en ‘n driejaar-kontrak met die Australiese
klub, Wests Tigers, gesluit het.
Die 30-jarige Tuqiri, wat in meer as 60 toetse vir die Wallabies gespeel
het, het die afgelope tyd vir die Engelse klub, Leicester, diens gedoen.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 53 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 96 sent teenoor die pond en op 10 rand 44 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,106 dollar per fynons en platinum teen
1,561 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 75 dollar 68 sent per vat.
……………………………………………………………………….
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.