NUUS: 4 Januarie 2010 om 08:00

Die nuus om agtuur:

***Daar is sprake dat  die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder en veroordeelde apartheidsera-moordenaar, Eugene de Kock,  binnekort vrygelaat gaan word.
Beeld berig dat  pres. Jacob Zuma  De Kock in April verlede jaar in die Sentrale Gevangenis in Pretoria besoek het waar hy reeds 15 jaar van sy lewenslange vonnis uitgedien het.
Die 61-jarige De Kock het glo  in ‘n telefoongesprek met sy goeie vriend en
oud-spioen Kevin Woods  gesê hy is oortuig dat Zuma sy aansoek om presidensiële kwytskelding vanjaar nog sal toestaan.

*** Die Presidensie het die media aangesê om weg te bly van pres. Jacob Zuma se tradisionele troue vandag met sy vyfde vrou, Thobela Madiba, op eNkandla in KwaZulu-Natal.
Die Presidensie het die troue as ‘n private familie seremonie bestempel.
Die egpaar is reeds ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing getroud en het drie kinders.
Zuma, wat die pa van agtien kinders is, is ook aan Gloria Bongi Ngema van Durban verloof maar dis nie bekend wanneer hulle  gaan afhaak nie.

*** Polisie in Limpopo het met ‘n geregtelike ondersoek begin na die dood die naweek  van twee tieners in die Rooiberg gebied naby Ellisras/ Lephalale.
Die sewentienjarige seun en ‘n 15-jarige meisie het verdrink toe hul tuisgemaakte boot op ‘n dam omgeslaan het.
‘n Seun wat gesien het wat gebeur, het die polisie ontbied.
Die twee se liggame is later deur polisieduikers uitgehaal.

***Altesame 129 verdagtes wat die naweek tydens ‘n misdaad bestrydingsoperasie op Katlehong aan die Oos-Rand gearresteer is, sal vandag in die Natalspruit-, Alberton- en Germiston-landdroshowe verskyn.
Die meeste is tydens is in hegtenis geneem ná hulle deur die polisie voorgekeer is om deursoek te word.
Aanklagte wissel van openbare drankgebruik tot diefstal, verkragting en moord.

*** Die Wes-Kaapse LUR’s  van gemeenskapsveiligheid en vervoer sal na verwagting vandag ‘n dringende vergadering hou om stappe teen die busmaatskappy - SA Roadlink - te bespreek.
Die Wes-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Lennit Max, het vroeër gesê hy win regsadvies in.
Dit volg nadat verskeie busse van SA Roadlink weens meganiese probleme van die pad afgehaal is.

*** Drie mense is in ‘n dubbele sneeustorting  in die  Diemtigtal vallei  ongeveer 40 kilometer suid van die Switserse hoofstad Bern dood.
Een van die slagoffers was ‘n dokter wat deur ‘n sneeustorting verswelg is terwyl hy ‘n groep skiërs probeer help het wat in die eerste sneeustorting begrawe is.
Ses ander skiërs is in die sneeustortings beseer.

***Die beroep van ‘n bekende pastoor van Kalifornië op sy gemeente om die kerk se skuld van nagenoeg ses miljoen rand te delg het nie op dowe ore geval nie en meer as 17 miljoen rand is reeds ontvang.
Pastoor Rick Warren sê die geld is Oujaarsaand ingesamel nadat hy ‘n beroep op die kerk se webblad geplaas het.
Volgens pastoor Warren het die mega-kerk se geldkas leeggeloop  omdat hulle hulp aan tien persent van die ledemate moes verleen wat hulle werk weens die resessie verloor het.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 45, ‘n Britse pond 11 rand 98 en ‘n Euro 10 rand 64 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom eenduisend-101 dollar 86 sent per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-483 dollar 50 sent.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 78 dollar 70 sent per vat.

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.

Leave a Reply