NUUS: 4 November om 13:00
PenOrent Nuus: Woensdag 4 November 2009.
In die nuus om eenuur:
**Tweede staatsgetuie getuig in Selebi korrupsieverhoor.
**Twee vierjarige meisies in Soweto verkrag.
**En vyf Britse soldate sneuwel in Afganistan.
*** Die tweede staatsgetuie in die korrupsieverhoor van Jackie Selebi, het getuig dat sy persoonlik ‘n banksak met 110-duisend rand by haar gewese verloofde Glenn Agliotti se kantoor aan die voormalige nasionale polisiehoof oorhandig het.
Dianne Muller het aan die Johannesburgse hooggeregshof gesê dat Agliotti en Selebi mekaar gebruik het om wedersyde voordeel uit hulle vriendskap te trek.
Volgens haar het die voormalige polisiehoof ongemaklik gelyk toe sy die geld voor Agliotti neergesit en hy dit met die woorde “ Here you go, my China”, aan Selebi gegee het.
***Twee jong mans is in verband met die beweerde afsonderlike verkragting van twee vierjarige meisies in Zola, Soweto in hegtenis geneem.
Een van die meisies wat verkrag is, is fisies gestremd.
In die tweede voorval is ‘n kleuter in haar ouerhuis verkrag nadat haar ma haar daar binne toegesluit en gaan kuier het.
***Vyf Britse soldate is doodgeskiet in ‘n aanval deur Taliban vegters in Afganistan se geweldgeteisterde Helmand-provinsie.Drie van die soldate was van die grenadier-wagte en twee van die koninklike militêre polisie.
Al vyf die soldate het aan skietwonde gesterf tydens ‘n skermutseling in die Nad-e’Ali-distrik. Die soldate se naasbestaandes is reeds oor hul dood in kennis gestel.
*** Japan se suidelike kusgebied is vanoggend vroeg deur ‘n matige aardbewing geskud maar geen berigte van ongevalle of skade is tot dusver ontvang nie.
Die skudding het vyf-komma-vyf op die Richterskaal geregistreer.
Geen tsoenami-weaarskuwing is uitgereik nie. Sowat 20 persent van die wêreld se kragtigste aardbewings tref Japan.
***’n Oostenrykse slagter wat sy elfjarige stiefdogter gemolesteer het, is sewe jaar tronk toe gestuur. Die man was een van 21 ander wat vasgetrek is toe die polisie ‘n internasionale kinderpornografie netwerk ontbloot het.
Die 41-jarige man is ook daaraan skuldig bevind dat hy pornografiese foto’s op die internet gepubliseer het.
***Die Amerikaanse gholfspeler Tiger Woods het gesê dis jammer at die Amerikaanse PGA-speler, Doug Barron, positief vir dwelms getoets het maar bygevoeg dat hy ten gunste van die sport se anti-dwelm beleid is.
Barron is Maandag deur die Amerikaanse PGA Toer vir ‘n jaar geskors.
Dis die eerste keer dat ‘n gholfspeler weens dwelmgebruik geskors word.
***Natal Kanoe Klub, organiseerders van die wêreld se grootste kanoe-marathon, die Hansa Powerade Dusi, het gese dat reelings vlot verloop vir die marathon in Januarie.
‘n Woordvoerder van die organiseerders, Ray de Vries, se hulle baie tevrede met hoe dinge op die oomblik gaan. Hy het gese hulle is egter bekommerd oor die krokodille wat in die Umgeni-rivier opgemerk is.
*** ‘n Reeds verswakte Australiese krieketspan is weereens deur ‘n besering gekelder in die eendagreeks in Indië. Moises Honriques moes hom weens ‘n dyspierbesering aan more se vyfde wedstryd onttrek. Henriques, wat self ‘n plaasvervanger vir die beseerde James Hopes is, het sy regter dyspier in Maandag se vierde wedstryd in Mohali beseer.
*** En nou die jongste markaanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 75 teenoor die dollar, op 12 rand 82 teenoor die pond en op 11 rand 44 teenoor die euro.
Goud het kort gelede teen 1,092 dollar 83 per fynons verhandel en platinum teen eenduisend- 363 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 78 dollar 68 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………
Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent nuus.©.