NUUS: 7 April om 11:00
Die Nuus om Elf
………………………………………………………………………………..
…..
*** ‘n Woordvoerder van die ANC, Ishmael Mnisi, kon nie vanoggend ‘n berig bevestig dat die party se jeugleier, Julius Malema, aangesê is om nie meer die woorde “Skiet die Boere” as deel van ’n omstrede bevrydingslied te sing nie.
Hy sê hy weet egter dat amptenare van die ANC dit eens is dat hulle met
Malema moet vergader, maar hy weet nie of die vergadering al plaasgevind het nie.
Die ANC is op die oomblik besig met ‘n media-inligtingsvergadering in
Johannesburg oor die aangeleentheid.
Beeld berig dat die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe en president Jacob Zuma, gisteraand aan Malema opdrag gegee het dat hy nie meer die lied mag sing nie en om hom te weerhou om uitlatings te maak wat opswepend is.
*** Volgens die departement van Gesondheid het ses mense in die Vrystaat en Noord-Kaap reeds weens slenkdalkoors gesterf.
Die getal mense wat met die siekte besmet is, het tot 87 gestyg.
Woordvoerder Charity Bhengu sê die nasionale instituut van oordraagbare
siektes het 68 gevalle en vier sterftes in die Vrystaat bevestig.
Twee sterftes het in die Noord-Kaap voorgekom met elf bevestigde gevalle van slenkdalkoors.
Sewe gevalle kom in die Oos-Kaap voor, terwyl deaar een geval in Noordwes
is.
*** Die saak teen die musikant Molemo “Jub Jub” Maarohanye en Themba
Tshabalala is vanoggend in die Protea-landdroshof in Soweto vir verdere
ondersoek tot 28 Mei uitgestel.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle vier skoolkinders doodgery het toe
hulle in die strate van Soweto resies gejaag het.
Hulle word deur aanklagte van moord, roekelose en nalatige bestuur en
bestuur onder die invloed van alkohol in die gesig gestaar.
Volgens ‘n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, is die saak uitgestel sodat ‘n verdere ondersoek na die oorsaak van die ongeluk gedoen kan word.
*** Die leier van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille, gaan vandag ‘n
telefoonkonferensie met die hoof van die Wêreldbank in Suid-Afrika, Ruth
Kagia, hou oor Eskom se aansoek vir ‘n lening van 28-miljard rand.
Die geld sal aangewend word om Hitachi Africa te betaal vir die bou van die
Medupi steenkool-kragstasie in Limpopo.
Die ANC se beleggingsarm — Chancellor House — het ‘n 25-persent aandeel in Hitachi Africa.
Zille sê haar party steun die aansoek om nog ’n kragkrisis te verhoed, maar
die ANC sal na raming ’n skoon wins van ‘n miljard rand daaruit maak en daar kan eenvoudig nie toegelaat word dat die ANC tenders ter waarde van etlike miljarde rand aan homself toeken nie.
*** Die N3-hoofweg by Van Reenenspas is gesluit ná ‘n botsing vanoggend
waarin drie vragmotors betrokke was.
Een persoon is dood en nog drie mense ernstig beseer in die ongeluk.
Volgens die KwaZulu-Natalse verkeersdepartement staan die verkeer doodstil en is daar ook geen alternatiewe roetes nie.
Die ongeluk het kort voor vyfuur vanoggend gebeur.
*** ‘n Black Hawk-helikopter moes vanoggend gebruik word om parlementslede van Thailand wat deur anti-regeringsbetogers vasgekeer is, te red.
Die land se regerings-veiligheidsagentskap sê die helikopter met vyf
gewapende soldate aan boord, het by die parlementsgebou in Bangkok geland om ministers en parlementslede op te pik nadat die betogers die gebou omsingel het.
Die Thaise televisiediens berig dat betogers verby onlustepolisielede gebeur
en die parlementsgebou binnegedring het.
Die sogenaamde Red Shirt-betogers eis dat die eerste minister, Abhisit
Vejjajiva, die parlement ontbind en ‘n nuwe verkiesing hou.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 22 sent teenoor die
dollar, op 11 rand een sent teenoor die pond en op 9 rand 66 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,135 dollar per fynons en platinum teen
1,716 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 86 dollar 55 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.