NUUS: 7 Desember om 07:00
NUUS OM 07:00
*** ‘n Bolandse boer is tydens ‘n mislukte rooftog op sy plaas buite Ceres
doodgeskiet.
‘n Woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van landbou, Wouter Kriel, sê in ‘n verklaring die 57-jarige Pieter Cillié van die plaas Loraine is laat Vrydagaand deur vermeende rowers doodgeskiet.
Provinsiale polisiewoordvoerder André Traut sê ’n onbekende aantal mans het die kombuisdeur oopgeskop en Cillié is geskiet toe hy wakker geword en
ondersoek gaan instel het.
Sy twee kinders en twee van hulle vriende was ook ten tyde van die voorval
in die huis.
*** Die Wes-Kaapse minister van landbou, Gerrit van Rensburg, het sy skok
en hartseer oor die moord uitgespreek.
Hy het ook sy skok uitgespreek oor drie werkers wat Saterdag op ‘n plaas in
die distrik Beaufort-Wes na bewering deur ‘n opsigter met ‘n jaggeweer
doodgeskiet is.
Die 37-jarige verdagte is in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag in
die landdroshof in Beaufort-Wes op drie aanklagte van moord verskyn.
*** Die minister van Vervoer, Sibusiso Ndebele, het gewaarsku dat
verkeers-veiligheidsveldtogte van vandag af landwyd verskerp gaan word met die oog op die vakansieseisoen.
Hy sê ongeveer vyf-duisend voertuie is gister deur verkeersowerhede gestop en met 70-persent van hulle het iets geskort of was daar uitstaande boetes vir die eienaars.
Ndebele het die padveiligheidveldtog vir die feesgety by die Grasmere-tolhek op die N1, suidwes van Johannesburg, bekendgestel en gesê die regering neem padveiligheid ernstig op en geen oortreders sal wegkom nie.
Meer as drie-duisend-500 voertuigbestuurders is tydens ‘n padversperring by die tolhek vir uitstaande verkeersboetes afgetrek.
*** Sowat 170 bestuurders is oor die naweek in die Oos-Kaap in hegtenis
geneem omdat hulle glo onder die invloed van alkohol was.
Tshepo Machaea van die provinsiale verkeersdepartement sê ‘n taakspan van die polisie het ook 17 busse en 10 minibusse van die pad afgetrek omdat
hulle onpadwaardig was.
*** Die ANC het dit as gerugte bestempel dat ANC-lede betrokke was by ‘n
voorval gistermiddag toe ‘n vergadering van die leier van die Demokratiese
Alliansie, Helen Zille, in Winterveldt, noord van Pretoria, ontwrig het.
Polisieversterkings is ingeroep en rubberkoeëls is geskiet om die
oproermakers uiteen te jaag.
Klippe en leë bierbottels is na Zille en haar geselskap gegooi, terwyl
buitebande en DA-T-hemde aan die brand gesteek is.
Sewe mense is in hegtenis geneem.
Die ANC se woordvoerder in Gauteng, Dumisa Ntuli, sê nie een van die
oproeriges het ANC-T-hemde gedra nie en daar is geen rede vir die ANC om die saak te ondersoek nie.
*** Buitelandse lugdienste onderneem nie meer vlugte oor Zimbabwe nie,
aangesien die land se weerdiens nie in staat is om inligting wat hulle nodig
het, te verskaf nie.
Die waarnemende direkteur van die Zimbabwiese weerdiens, Morris Sahanga, het in ‘n koerant-onderhoud gesê die toerusting van die staatsbeheerde departement van meteorologiese dienste is verouderd en kan nie die verpligte en jongste weerinligting aan vliegtuie verskaf nie.
Hy sê Zimbabwe lê op die hoofroete tussen Europa en Suid-Afrika, maar
vliegtuie vlieg nou oor lande wes van Zimbabwe of oor die Mosambiek-kanaal oos van die land.
Sahanga sê die weerdiens het twee-miljoen Amerikaanse dollar nodig om sy
toerusting op te gradeer, maar het net 300-duisend dollar van president
Robert Mugabe se bankrot-regering ontvang.
*** Gholf: Robert Allenby het die verdedigende kampioen, Henrik Stenson
van Swede, op die derde putjie van ‘n valbyl-uitspeelronde geklop om die
eerste Australiër te word wat die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City kon
wen.
Albei het die toernooi met ‘n telling van 277 voltooi.
Tim Clark van Suid-Afrika en Ross Fisher van Engeland het in die
gesamentlike derde plek op 278 geëindig.
Retief Goosen, wat die laaste ronde met ‘n voorsprong van twee houe begin
het, het ‘n teleurstellende 75 houe gespeel en in die vyfde plek op 279
klaargemaak.
*** Krieket: Die jongste beskikbare telling op dag vier van die tweede
toets tussen Australië en die Wes-Indiese Eilande in Adelaide is 162 vir
drie in die Wes-Indies se tweede beurt.
Die Windies het die beurt vanoggend op 23 sonder verlies hervat en het nou
‘n algehele voorsprong van 174 lopies nadat Australië gister vir 439 lopies
in sy eerste beurt uitgehaal is in antwoord op die besoekers se
eerstebeurttelling van 451.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 27 sent teenoor die pond en op 11 rand 8 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,156 dollar per fynons en platinum teen
1,439 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 86 sent per vat.
………………………………………………………..……………..
………………………..
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.