NUUS: 7 Januarie 2010 om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het haar
teleurstelling uitgespreek oor die feit dat die matriek-slaagsyfer met net
minder as twee persent gedaal het teenoor 2008 se slaagsyfer.
Sestig-komma-sewe persent van die matrieks het geslaag.
Motshekga het in Pretoria gesê die departement sal stappe doen om te
verseker dat die onderwysstelsel verbeter.
*** Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) het alle
suksesvolle matrieks, hulle gesinne en onderwysers met die uitslae
gelukgewens.
Die president van die unie, Thobile Ntola, sê in ‘n verklaring diegene wat
dit nie gemaak het nie, moet nie tou opgooi nie.
Sadou verwag ook van die departement om diesulkes te ondersteun in hulle
pogings om weer eksamen te skryf.
*** Die Christen-Demokratiese Alliansie het ‘n beroep op die regering
gedoen om plaasmoorde te veroordeel.
CDA-leier Theunis Botha sê in ‘n verklaring die regering moet die probleem
van plaasmoorde as iets buitengewoons vierkantig in die oë kyk en deurgaans
skerp veroordeel.
Hy sê die regering moet sy plig nakom en ‘n duidelike boodskap uitstuur dat
moorde soos dié op ‘n bejaarde egpaar vroeër die week op hulle plaas naby
Senekal in die Vrystaat nie in orde is nie.
*** Hamas-vegters en Egiptiese soldate het vandag op die grens tussen
Egipte en die Gazastrook slaags geraak.
Een Egiptiese soldaat is dood en meer as ‘n dosyn Hamas-vegters beseer in
die bloedigste gevegte tussen die twee partye in ‘n jaar.
Dit kom te midde van toenemende spanning oor Egipte se oprigting van ‘n
ondergrondse staalmuur wat Gaza se suidelike grens sal verseël en honderde
smokkeltonnels sal versper.
Egipte sê die beveiliging van sy grens met Gaza is ‘n saak van nasionale
veiligheid.
*** Duisende skole in Brittanje is steeds weens sneeu en bittere koue
gesluit, terwyl vervoer-ontwrigtings vanoggend voortgeduur het.
Toestande op paaie word as ‘n nagmerrie beskryf.
Oornagtemperature het plek-plek tot 18 grade Celsius onder vriespunt gedaal
en volgens weervoorspellers sal die Arktiese toestande na verwagting nog ‘n
week lank voortduur.
Om sake te vererger, is duisende huise in Hampshire, Sussex, Kent en Surrey
sonder elektrisiteit.
Lugpassasiers is ook gewaarsku teen vlugvertragings.
*** Verskeie Amerikaanse webwerwe bespiegel dat Tiger Woods in Afrika –
dalk selfs in Suid-Afrika – is om van die volgehoue media-aandag weg te kom.
Van die webwerwe berig dat Woods van plan was om na ’n vriend se landgoed in
Afrika te gaan om voorlopig uit die openbare oog te verdwyn.
Daar word gesê die gholfspelers Ernie Els, Retief Goosen en David Frost is
onder andere kennisse van Woods en elkeen het ’n landgoed in Suid-Afrika.
Mike Green, die kommunikasiebestuurder van Sunshine Tour — wat
beroeps-gholftoernooie in Suid-Afrika reël — sê hy het verneem Woods is in
Suid-Afrika, maar hy kan dit nie bevestig nie.
*** Krieket: Mooiweer word in Kaapstad ondervind waar spel op die laaste
dag van die derde toets tussen Suid-Afrika en Engeland net meer as ‘n
halfuur gelede begin het.
Jonathan Trott met 24 lopies en die naguiltjie, James Anderson, wat nog nie
lopies het nie, het Engeland se tweede beurt hervat op 132 vir drie.
Die Engelse moet 466 lopies vir ‘n oorwinning aanteken, terwyl Suid-Afrika
nog sewe paaltjies moet laat kantel.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 34 sent teenoor die
dollar, op 11 rand 69 sent teenoor die pond en op 10 rand 55 sent teenoor
die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,133 dollar per fynons en platinum teen
1,550 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 81 dollar 70 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.