NUUS: 8 Desember om 11:00
Die Nuus om Elf
*** Die Burgerlugvaart-owerheid het sy kommer uitgespreek oor die getal
voorvalle waarby vliegtuie van SA Airlink onlangs betrokke was.
Dit nadat ’n passasiersvliegtuig van dié lugdiens gisteroggend op George van
die aanloopbaan af geloop, deur ’n heining gebars en op die pad tussen die
lughawe en die N2 tot stilstand gekom het.
Niemand is ernstig beseer nie.
*** Dit was die vierde voorval die laaste paar maande waarby ’n vliegtuig
van die lugdiens betrokke was.
Volgens Kabelo Ledwaba van die Burgerlugvaart-owerheid is raad reeds begin met ’n spesiale oudit-ondersoek na SA Airlink se vloot vliegtuie.
*** Die liggaam van een van die mynwerkers wat in Gold Fields se
Driefontein-myn naby Carletonville vermis was ná ‘n rotsstorting, is deur
die myn se reddingspanne gevind.
Die maatskappy sê in ‘n verklaring daar word nog onverpoosd na die tweede
mynwerker gesoek.
*** ‘n Zimbabwiese vragmotorbestuurder is in ‘n vermeende kaping op die M13 in KwaZulu-Natal doodgeskiet.
Volgens Jeff Wicks van die Netcare 911-nooddiens was die vragmotor met ‘n
vrag motors na Zimbabwe op pad toe die insittendes van ‘n wit Toyota Corolla en ‘n silwer Honda met blou ligte blykbaar die vragmotor van die pad af getrek het.
Die bestuurder is deur die deur van die vragmotor in sy bors geskiet en hy
is op die toneel dood.
Die aanvallers het die vragmotor net so met sy vrag agtergelaat.
*** Die polisie in Limpopo het meer as 20 mense aangekeer vir ondervraging nadat buitelanders — hoofsaaklik Zimbabwiërs — uit die
Westenburg-woongebied in Polokwane verjaag is.
Die polisie het buitelanders ook vroeër aangemoedig om die gebied te verlaat en meer as 200 mense word by die Peter Mokaba-stadion gehuisves.
Ses Zimbabwiese mans is vroeër deur ‘n groep plaaslike inwoners aangerand.
Inwoners beskuldig die buitelanders van misdaad in die omgewing.
*** Die dodetal in gister se dubbele bomontploffing in ‘n mark in Pakistan
se tweede grootste stad, Lahore, het tot minstens 49 gestyg nadat die
polisie nog liggame in die smeulende oorblyfsels van die mark gevind het.
Sowat 150 mense is beseer.
Die twee bomme het sowat 30 meter van mekaar af ontplof en ‘n reuse brand
veroorsaak.
Verskeie nabygeleë geboue is ook beskadig.
Die gebied is afgesper en die polisie soek nog na leidrade, maar die Taliban
word vir die ontploffings blameer.
*** Die Springbok-slotpaar, Victor Matfield en Bakkies Botha, is deur die
Franse rugbykoerant, Midi Olympique, gesamentlik as die wêreldspelers van
die jaar vereer.
Hulle het verlede week hulle toekennings in Parys ontvang.
Dertig van dié bekende rugbykoerant se joernaliste het vir die toekenning
gestem.
Dié gesogte toekenning gaan gewoonlik net aan een speler, maar daar is
gevoek dat dit aan Matfield en Botha as kombinasie gegee moet word.
Nog ’n Suid-Afrikaner – die voormalige Springbok-losvoorspeler Joe van
Niekerk – is as die Franse Liga se beste oorsese speler aangewys.
Hy speel deesdae vir Toulon.
*** Krieket: Die tweede toets tussen Australië en die Wes-Indiese Eilande
in Adelaide het onbeslis geëindig.
Australië, wat op die laaste dag 330 lopies vir ‘n oorwinning moes aanteken,
was op 212 vir vyf in sy tweede beurt toe die wedstryd beëindig is.
Die Windies se kaptein, Chris Gayle, was die speler van die wedstryd nadat
hy die hoogste telling van 165 nie uit nie in die wedstryd aangeteken het.
Hy het ook regdeur die tweede beurt van die besoekers gekolf.
Australië loop met een-nul voor in die reeks.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 50 sent teenoor die dollar, op 12 rand 23 sent teenoor die pond en op 11 rand 8 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,156 dollar per fynons en platinum teen 1,449 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 76 dollar 55 sent per vat.
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.