NUUS: 8 Januarie 2010 om 11:00

Die nuus om elfuur:

***Polisie in die Oos-Kaap het 27 mense in hegtenis geneem nadat ‘n ontstoke groep nege hutte , onder wie ‘n hoofman s’n,
op Ngcobo aan die brand gesteek het.
Inwoners beweer dat die plaaslike hoofman hul vee steel.
Een van die gesteelde skape is glo in die hoofman se kraal gekry.
Die groep sal na verwagting vandag in die plaaslike hof verskyn.

***Graan Suid-Afrika sê boere het tot en met die laaste week van verlede jaar meer mielies aan silo’s landwyd gelewer.
Altesaam elf komma twee miljoen ton mielies is tot dusver die seisoen gelewer waarvan ses en ‘n half ton witmielies was.
Die oesskattingskomitee beraam dat Suid-Afrikaanse mielieboere  twaalf komma een miljoen ton mielies die seisoen gaan lewer wat nul komma ses miljoen ton minder as die vorige seisoen is.

***Pres. Jacob Zuma het vandeesweek aan Vrystaatse LUR’s gesê pleks daarvan om Suid-Afrikaanse boere uit die land te verwilder, moet kommersiële boere eerder vertroetel word.
Volgens die Vrystaatse premier Ace Magashule het Zuma gesê toe subsidies aan kommersiële boere gesny is, het hulle uitgewyk na Zambië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek.
Die president  het volgens die premier ook gesê indien skole in swart woonbuurtes beter wil vaar in eksamens moet hulle by die ou wit skole gaan kers opsteek oor dissipline en pligsgetrouheid.

***Die Suid-Afrikaanse egpaar wat sedert verlede naweek deur plaasbesetters op hul Zimbabwiese plaas gedreig en aangerand is, het die plaas gistermiddag verlaat.
Die 66-jarige  Dolf du Toit , sy vrou, Alida  en hul seun, Rudolph , gaan tuis by vriende sowat 25 kilometer van hul plaas.
Die paar honderd oorblywende wit boere in Zimbabwe is steeds die teiken van pro-Mugabe plaasbesetters ondanks vrome  beloftes deur die Zimbabwiese regering dat daar opgetree gaan word.

***Die polisie se gemeenskap polisieëringsforum in Mitchells Plan op die KaapseVlakte sê hulle is vies oor die feit dat borgtog  aan ‘n vermeende dwelmbaas toegestaan is.
Fadwaan Murphy het gister op verskeie aanklagte in die Blue Downs landdroshof verskyn.
Hy is op borgtog van slegs 300 rand vrygelaat.

***Daar is vanoggend begin met die opruiming van swaelsuur  wat uit ‘n tenkvragmotor op die N-2 tussen Mthatha en Dutywa in die Oos-Kaap gelek het.
Vier vragmotors is deur die gestorte swaelsuur beskadig en gemeenskappe is gewaarsku om hul vee uit die gebied te hou.
Die opruiming van die chemikalieë sal minstens twee dae duur.

***Die bewindhebbende Arbeidersparty in Brittanje verloor steeds steun slegs enkele maande voordat Britse kiesers na die stembus gaan.
Volgens die jongste meningsopname het steun vir die Arbeidersparty met meer as een persent gedaal en is nou twaalf persentasiepunte agter die hoofopposisie, die Konserwatiewe party.
Die Konserwatiewe party  se steun het tot 42 persent groei gegroei.

***Drie kerke is in die Maleisiese hoofstad Koeala Loempoer deur Moslem radikales met brandbomme aangeval.
Sommige Moslem-groepe is kwaad  oor die beslissing van ‘n hof dat  nie-Moslems  die word Allah kan gebruik as hulle na God verwys.
Die premier van Maleisië , Najib Razak, het die aanvalle op die kerke veroordeel en gesê sulke optrede  sal die land se harmonie vernietig.

***Die Italiaanse motorfietsryer, Luca Manca, is ernstig beseer toe hy tydens die sesde skof van die Dakar tydren van sy fiets geval het.
Die 29-jarige Manca, wat aan sy eerste Dakar tydren deelneem, was in ‘n algehele negende plek toe hy in die Atacama woestyn in die noorde van Chili ‘n ongeluk gemaak het.
Die Dakar tydren word as een van die gevaarlikste byeenkomste in motorsport beskou.

***En nou die jongste markaanwysers: ‘n Dollar kos 7 rand 43, ‘n Britse pond 11 rand 86 en ‘n Euro 10 rand 63 sent.
Goud het ‘n ruk gelede rondom eenduisend-124 dollar 53 sent per fynons verhandel en
platinum teen eenduisend-547 dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee- olie is 81 dollar 25 sent per vat.

Dis die einde van die nuus geskryf en saamgestel deur Kobus de Kock van PenOrent
Nuus. ©.
Sel: 083 491 5148
kdkock@lantic.net

Leave a Reply