NUUS: 9 Maart 2010 om 08:00
Die Nuus om Agt
…………………………………………………………………………………….
*** Die wrak van ‘n gemotoriseerde sweeftuig wat Sondag vermis geraak het, is gisternamiddag langs die Breërivier naby Worcester gevind.
Die vlieënier, Adrian Hepburn, is in die ongeluk dood, terwyl sy vrou, Adri, met ernstige beserings per helikopter na die Worcester Medi-Clinic geneem is.
Volgens die polisie het die sweeftuig Sondag in ‘n beboste gebied geval nadat dit vermoedelik kragdrade getref het.
Die wrak is ná ‘n grootskaalse soektog deur onder meer die Worcester-polisie, boere, lede van die Worcester-vliegklub, die Metrodiens en die lugvaartreddings-koördinasiesentrum gevind.
Die erg beseerde Adri Hepburn is sowat 60 meter van die wrak af gevind nadat sy probeer het om hulp te gaan soek.
*** ‘n Vrystater is aan slenkdalkoors dood.
Die Volksblad in Bloemfontein sê volgens die adjunk-minister van Gesondheid, dr. Molefi Sefularo, is die 45-jarige man, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie,
aanvanklik met Kongo-koors gediagnoseer.
Nog ses mense is in die Vrystaat en Noord-Kaap met slenkdalkoors gediagnoseer en is in die hospitaal vir waarneming en behandeling.
Slenkdalkoors onder vee het op 15 plase in die Vrystaat uitgebreek.
Sefularo sê die uitbreking is nie ‘n krisis nie en word beheer.
*** AfriForum het in ‘n verklaring sy tevredenheid uitgespreek met gister se hooggeregshofsaak oor ‘n nasionale taalbeleid.
Die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Alana Bailey, sê dit is ʼn
waterskeiding-saak wat die toekoms van dienslewering aan Suid-Afrikaners in hulle eie tale tot ʼn groot mate gaan bepaal.
Sy sê tans word Engels ten koste van alle ander landstale bevorder word en dit het tot gevolg dat die sprekers van alle ander tale in die land soos tweedeklas burgers behandel word en gedwing word om in Engels te funksioneer, of dienslewering te ontbeer.
*** Die Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in ‘n aansoek deur ‘n prokureur van Brits in Noordwes, Cornelius Lourens, wat die regering wil dwing om alle tale in die land gelyk te behandel.
Uitspraak sal aanstaande week gelewer word.
*** Die owerhede in Haïti het een van die twee Amerikaanse sendelinge wat op
aanklagte van kinderontvoering aangehou is, vrygelaat.
Volgens die AFP-nuusagentskap is die 24-jarige Charisa Coulter aan personeel van die
Amerikaanse ambassade in die hoofstad, Port-au-Prince, oorhandig.
Haar werkgewer, die 40-jarige Laura Silsby, word nog aangehou.
*** Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het die parlementêre verkiesing in
Irak geloof as ‘n belangrike stap om nasionale eenheid in die land te versterk.
Die raad het ook pogings om die verkiesing met geweld te ontwrig, veroordeel.
Die Veiligheidsraad het in ‘n verklaring Irak se inwoners gelukgewens met hulle
voortgesette verbintenis tot ‘n vreedsame en demokratiese politieke proses in die
land.
*** Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gaan nie teen die Stormers se kaptein, Schalk
Burger, optree oor ‘n voorval in Saterdag se Super 14-wedstryd teen die Highlanders
op Nuweland in Kaapstad nie.
Burger het die skeidsregter Mark Lawrence liggies op die arm raakgeslaan tydens ‘n
onderonsie met die Highlanders se kaptein, Jimmy Cowan.
Saru-woordvoerder Andy Colquhoun het aan Sport24 gesê die unie se hoof van
skeidsregters, André Watson, het die voorval ondersoek en ook met Lawrence daaroor
gepraat.
Hy het besluit dat geen optrede nodig is nie.
*** Krieket: Die jongste beskikbare telling in die derde eendagwedstryd tussen
Nieu-Seeland en Australië in Hamilton is vier sonder verlies in Australië se beurt.
Die Aussies het 246 lopies vir ‘n oorwinning nodig nadat Nieu-Seeland in die 47ste
boulbeurt vir 245 lopies uitgehaal is.
Ross Taylor het die hoogste telling van 62 lopies van 66 balle aangeteken.
*** Finansiële aanwysers: Die rand verhandel op 7 rand 41 sent teenoor die dollar,
op 11 rand 13 sent teenoor die pond en op 10 rand 9 sent teenoor die euro.
Goud het kort gelede verhandel teen 1,120 dollar per fynons en platinum teen 1,585
dollar.
Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 80 dollar 5 sent per vat.
…………………………………………………………………………………………………
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.