NUUS: 9 November om 11:00

Maandag 9 November 2009

Die Nuus om Elf

***  Ses mense is beseer toe ‘n motor vanoggend verskeie kere op die N1 naby Vanderbijlpark gerol het. Volgens ER24-woordvoerder Werner Vermaak is die bestuurder in ‘n kritieke toestand nadat hy uit die motor geslinger is. Die ander vyf insittendes is ook in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

***  Die omstrede Jacob Maroga was vanoggend in sy kantoor by Eskom, maar dit is nie duidelik of hy besig is om sy kantoor te ontruim en of hy met sy werk as uitvoerende hoof voortgaan nie.

Eskom se voorsitter, Bobby Godsell, het verlede week aangekondig dat Maroga bedank het, maar die ANC-Jeugliga en die Swart Bestuursforum het volgehou dat hy nie bedank het nie.

Eskom se woordvoerder, Andrew Etzinger, het vanoggend gesê hy dra nie kennis van enige nuwe verwikkelinge nie.

***  Die sanger, Robbie Klay, sal vandag in die Hooggeregsof in Pretoria
onder kruisverhoor geneem word nadat hy Donderdag sy getuienis in die saak teen Jurie Els afgesluit het.

Els staan tereg op aanklagte van seksuele molestering van Klay toe hy nog
minderjarig was.  Els ontken skuld op al die aanklagte.

***  Die terrorisme-verhoor van die Zimbabwiese MDC-parlementslid, Roy
Bennett, sal na verwagting vandag in Harare begin.

Bennett is die eerste keer in Februarie in hegtenis geneem nadat hy uit
Suid-Afrika teruggekeer het vir die pos van adjunk-minister van landbou in
die eenheidsregering.

Pleks van om saam met die ander kabinetsministers beëdig te word, is hy
gearresteer vir die besit van wapens en onder meer van terrorisme en
sabotasie beskuldig.

***  Die Zimbabwiese landbou-unie het met ’n geldinsamelingsveldtog begin om meer as vier-duisend-200 wit Zimbabwiese boere en hulle gesinne wat van hul plase afgeskop en na dorpe en stede gedwing is, van basiese lewensmiddele te voorsien.

Die voorsitter van die unie, Deon Theron, het op ‘n nuuskonferensie in
Harare gesê hulle het sowat nege-miljoen rand per maand nodig om na die
basiese behoeftes van die mense om te sien.

Hy het ook daarop gewys dat die oorblywende wit boere in Zimbabwe besig is om moed te verloor in hulle stryd teen die verskerpte besettings en  afsettings van hulle plase.

***  Wêreldleiers gaan hulle vandag by duisende mense aansluit wat die val
van die Berlynse Muur herdenk. Dié gebeure 20 jaar gelede het die weg gebaan vir die einde van die Koue Oorlog. Die hoofvieringe sal by die Brandenburghek in Berlyn plaasvind.

Reuse domino’s sal laat kantel word om te toon hoe kommunistiese lande in
Oos-Europa in 1989 die een na die ander tot ‘n val gekom het. Kommunistiese Oos-Duitsland het die 155-kilometer-lange konkreetmuur in 1961 rondom Wes-Berlyn gebou.

***  Die vrou van die voormalige inister van Intellegensie, Ronnie Kasrils,
is in ‘n hospitaal in Kaapstad oorlede.  Volgens Kasrils se woordvoerder, Lorna Daniels, het die 73-jarige Elanor Kasrils gisteroggend ‘n beroerte gehad. 

***  Die voormalige Noord-Transvaalse vleuel en senter, John Knox, is in die ouderdom van 55 jaar oorlede. Volgens berigte is keelkanker net meer as twee maande gelede by hom gediagnoseer.

Knox het in die 1970’s vir Noord-Transvaal, Natal en die Suid-Afrikaanse
onder 21-span gespeel.

***  Finansiële aanwysers:  Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 48 sent teenoor die pond en op 11 rand 14 sent teenoor die euro.

Goud het kort gelede verhandel teen 1,107 dollar per fynons en platinum teen 1,358 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 12 sent per vat.

………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply