NUUS: 9 November om 13:00

Maandag 9 November 2009

In die Nuus om Een

**  Aanduidings van ‘n draaipunt in die verkope van nuwe voertuie,

**  Christen-Demokratiese Party sê alle Suid-Afrikaners kwalifiseer vir
BBP-beskerming,

**  EN, ‘n veiligheidswag in ‘n transito-rooftog in KwaZulu-Natal
doodgeskiet.

***  Die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) sê die
aanduidings is dat die verkope van nuwe motors en handelsvoertuie ’n
onderste draaipunt bereik het.

Naamsa sê in sy kwartaallikse oorsig dat laer rentekoerse, dalende inflasie
en ‘n beter finansiële posisie van verbruikers aanstaande jaar tot klein
verbeterings in voertuig-verkope behoort te lei.

Die vereniging sê daar was ’n verbetering in die verkope van nuwe motors in September en Oktober – hoofsaaklik vanweë ’n beter vraag van
motorhuurgroepe. In die twee maande kon ’n verbetering in uitvoere ook gesien word.

***  Die Christen-Demokratiese Party sê indien die ANC-jeugleier, Julius
Malema, vir BBP-beskerming kwalifiseer, sal alle Suid-Afrikaners kwalifiseer
as die regering konsekwent is met die toepassing van die motivering dat
Malema se lewe in gevaar is.

CDP-leier Theunis Botha sê indien die groot aantal moorde, kapings,
huisrooftogte en ander misdade in aanmerking geneem word, kan daar geen
twyfel wees nie dat alle Suid-Afrikaners vir BBP-beskerming sal kwalifiseer.

Hy het gereageer nadat Zweli Mnisi, woordvoerder van die minister van
Polisie, Nathi Mthethwa, gister gesê het enige Suid Afrikaner wat glo sy
lewe is in gevaar, kan ’n versoek om BBP-beskerming rig.

***  Sondagkoerante het berig dat die belastingbetaler minstens 300-duisend rand per maand sal moet opdok aan lyfwagte vir Malema.

Die DA se woordvoerder oor veiligheid, Dianne Kohler Barnard, sê dit is
belaglik dat Malema se veiligheid belastingbetalers drie-komma-ses miljoen
rand per jaar uit die sak kan jaag. Sy sê Malema is nie ’n lid van die parlement of selfs van ’n provinsiale wetgewer nie.

ANC-woordvoerder Jackson Mthembu het die DA se kommentaar as ongevoelig en skandalig bestempel.

***  ‘n Veiligheidswag is vanoggend tydens ‘n transito-rooftog by die Umvoti Ultra City op die N2 naby KwaDukuza in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Netcare 911 se Jeff Wicks sê die rowers het die wag in die gesig geskiet. Hulle het daarna met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.

***  Drie jong meisies is beseer toe hulle gistermiddag in Siyabuswa in
Mpumalanga deur ‘n polisievoertuig raakgery is.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die motor omgeslaan nadat die bestuurder weggeswaai het in ‘n poging om die meisies van 14 en 15 jaar te mis. Hy is net lig beseer. Die meisies is in ‘n bestendige toestand in die hospitaal.

***  Sjina sê sy groeiende handelsbetrekkinge en beleggings in Afrika is
daarop gemik om die vasteland te help om ekonomiese onafhanklikheid te
bereik.

Die minister van handel, Chen Deming, het op die beraad van Sjina en Afrika
in Sharm El-Sheik in Egipte gesê Sjina se beleggings is deel van sy pogings
om Afrikalande te help om hulle mense se lewensomstandighede te verbeter.

Die Sjinese eerste minister, Wen Jiabao, het gister aangekondig dat Sjina
tien-miljard dollar se lenings aan Afrika beskikbaar gaan stel.

***  Rugby:  Sewe spelers van Toulouse is ingesluit in die span van Frankryk
vir die naweek se toets teen Suid-Afrika. Die kragmeting vind Vrydagaand in Toulouse plaas.

***  Vir dié wat kans sien vir die name, die span is Damien Traille, Vincent
Clerc, Yann David, Maxime Mermoz, Cedric Heymans, Francois Trinh-Duc, Julien Dupuy, Louis Picamoles, Imanol Harinordoquy, Thierry Dusautoir (kaptein), Romain Millo-Chluski, Lionel Nallet, Nicolas Mas, William Servat en Fabien Barcella.

Die plaasvervangers is Dimitri Szarzewzski, Sylvain Marconnet, Sebastien
Chabal, Julien Bonnaire, Morgan Parra, David Marty, Maxime Medard en Thomas Domingo.

***  Finansiële nuus:  Die prys van goud het vanoggend weereens ’n nuwe
hoogtepunt van een-duisend-109 dollar per fynons bereik.

Die rand verhandel op 7 rand 44 sent teenoor die dollar, op 12 rand 53 sent
teenoor die pond en op 11 rand 16 sent teenoor die euro. Platinum het kort gelede verhandel teen 1,361 dollar.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 77 dollar 17 sent per vat.

………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………
Die einde van die Nuus wat geskryf en saamgestel is deur Willie Visagie
van PenOrent-nuus ©.

Leave a Reply