NX beïndruk
Na ‘n groot stormloop voor Kersfees van nuwe CD’s deur die groot kanonne in die Afrikaanse musiekbedryf, het 2009 op ‘n stil noot begin.
Toe beland NX se “Brieweboks” op my tafel.
Ek was baie skepties. Want nou sing ‘n kontinuïteitsaanbieder van KYKNet al weer, en dis nou weer ‘n wannabe sanger en net geldmaakstories.
Sit toe maar die CD met ‘n sug in my speler. Kom ons kyk wat maak die mooi rooikop, Nadia Beukes.
Wragtig.
Ek trek my skeptiese woorde onvoorwaardelik terug. Nadia is ‘n vars bries en sy kan SING! Hoe anders, met so ‘n talentvolle pa?
Saam met Xander (Steyn) is die harmonieë ‘n lus vir die oor en die lirieke is verfrissend. Niks “bokkie-baby” nie. Niks se “vry met my/bly by my/doef-doef blah blah” nie Dis oorspronklik, nuut, vars. Die produksie is uiters professioneel. Die musikante dwing respek af.
Elke snit verdien lugtyd. Elke een. Luister gerus na die verwerking van die ”Oukraalliedjie”. “Met jou foute”, en ook die titelsnit beïndruk.
‘n Vars bries deur die Afrikaanse musiekmark en ‘n lus vir die oor.
Dankie, Brieweboks, dankie.