Op ‘n stil noot

Dit is maar stil op die musiekfront so vroeg in die jaar. Die groot kunstenaars het CD’s vrygestel net so voor Kersfees en dit voel so al asof daar ‘n droogte is aan nuwe plaaslike musiek op die oomblik.

‘n Paar CD’s wat jy egter kan aanskaf, indien jy nog nie het nie, is Romanz se My hele hart.  ‘n Besliste wenner, hierdie viermanskap se harmonieë pluk aan die hartsnare en hulle word nie verniet ons eie Il Divo genoem nie.

Dan het Blackie Swart se Suid van die Limpopo ook nou op die rakke beland. Blackie se musiek is perfek vir enige partytjie of braai. En kom ons wees eerlik, die man KAN kitaar speel.  Ons geniet veral “So ry die Boere” wat hy saam met die 80-jarige Manie Bodenstein opgeneem het. Gooi mielies, manne!

‘n Kunstenaar wat ons beslis aangenaam verras het, is ‘n Man soos Jan. Oftewel Hanno van Heerden, wat ook verantwoordelik is vir die kenwysie van die skinderprogram Glitterati. Met eerste oogopslag het ons maar getwyfel, en het die musiek maar half teësinnig geluister… maar wat ‘n verfrissende, heerlike verrassing! Die Man kan sing! Sy lirieke en melodieë is vars, nuut en heeltemal gemaklik op die oor. Kyk uit vir sy duet met Jak de Priester, ook duette met Richard van der Westhuizen en die uiters talentvolle Lize Beekman.  Doe zo voort, Man!

Leave a Reply