“Respek vir individuele verskille”

Respek Vir Individuele Verskille

 

  Liefde as respek beteken dat jy agting en bewondering het vir jou maat se goeie eienskappe en vermoëns. Liefde as respek wil jou maat ook ondersteun ten opsigte van daardie eienskappe wat nie altyd waardering uitlok nie. Dit beteken jy erken as haar of hom as ‘n mens. Ons is almal gebroke met foute. Respek is ook ‘n waarderinge vir jou maat se lewensbeskouing, norme en waardes. Die liefde as respek is ook ‘n estetiese aspek. Dit wil sê: jy waardeer en bewonder die skoonheid van jou maat se liggaam en die uniekheid van sy/haar persoonlikheid.  Respek beteken dus ek besef my maat het ‘n ander persoonlikheid as ek en ek waardeer ook die feit dat my maat anders groot geword het as ek en ‘n ander agtergrond het.

 

Dit is net so dat individuele verskille die potensiaal het om intimiteit te vernietig.  Mense met verskillende peroonlikheidsamestellings druk hulle liefde op verskillende maniere uit en  mense met verskillende agtegronde het verskillende verwagtings, voorkeure en persepsies van die huwelik. 

 

Ons probeer dan om met herhalende destruktiewe maniere om ons maats so ver te kry om aan ons behoeftes en verwagtings aandag te gee.  Ons gebruik metodes soos kritiek, neul, kerm, omkoop en dreig om maar ‘n paar te noem. Weens hierdie metodes van ons raak ons vasgevang in ‘n patroon wat dit vir ons onmoontlik maak om ‘n nuwe realiteit of oplossing raak te sien.

 

Wat ons eerstens kan doen is om te aanvaar dat my maat ‘n ander persoonlikheid het as ek. Ek doen die Myers en Briggs persoonlikheidstoetse op huwelikverrykingskampe as maniere vir mense om te verstaan dat my maat dikwels nie optree uit moedswilligheid om my te dwarsboom nie, maar hy het ‘n ander persoonlikheidsprofiel as ek.  Ek sal dit dan later weer bespreek vanuit die hoek van die huwelik, maar ons kan voorlopig vir mekaar sê dat verskillende persoonlikhede liefde en sorg op verskillende maniere uitleef.

 

Nou wat gaan ons doen? Bestudeer jou maat en vind uit wat die positewe aspekte van sy persoonlikheid is. Nelus is redelik gesteld op sy reëls, maar sy vrou Ilse het ‘n baie oop benadering tot die lewe en is nie so gesteld op tye, netheid en ander reëls soos Nelus nie.  Sy het egter tot die besef gekom dat hulle nooit onnodige risikos gaan loop met hulle finansies nie.  Sy aanvaar ook sy hulp met die finansies omdat haar oop benadering tot die lewe dikwels in haar ongetgroude lewe veroorsaak het dat sy probleme ontwikkel het.

 

So, kom ons sê eers net dit vandag vir mekaar. Staan ‘n tree terug en kyk na jou maat uit ‘n ander hoek. Wat jy belewe as moedswillig is dalk liefde in jou maat se kop. Sy dink: “Ek is lief vir jou daarom hou ek die huis so netjies vir jou.  Hy dink weer: “As jy lief was vir my sou jy nie met ‘n stoflap agter my aangeloop het nie.”

 

Hier is ‘n oefening vir julle:

Maak ‘n lys van dit wat jy in jou maat  waardeer (dink bietjie mooi aan die positiewe eienskappe en dit wat jy as vanselfsprekend aanvaar het in jou maat. Byvoorbeeld: Sy ry die kinders rond of Sy maak vir ons kos.  Sy sorg dat die kinders betyds by die skool kom. Hy het integriteit of hy is altyd kalm ens.)

 

Sê nou wat jy neergeskryf het -

Eers die man vir die vrou terwyl die vrou sonder kommentaar luister.

Nou die vrou terwyl die man sonder kommentaar luister.

 

Sê vir mekaar hoe jy gevoel het om dit te hoor of sê.

 

Kom ons laat mekaar veilig voel.

 

Riaan

Leave a Reply