Rippel 90.5 se kamp vir gestremdes 2009

Rippel 90.5 het sy eerste kamp vir gestremdes gehou.  Dit was ‘n eerste van sy soort.  Willem en Wilna Botha (vs. van ons Godsdienskomitee) het die insiatief gehad en alles gereël.  Die kamp was so gou vol en daar is uitstekende borgskappe gekry.  Dit was ‘n kamp vir die mense om te geniet en dinge te doen wat hulle nooit kan doen nie.  Bakkie-ry, quad bikes ens. 

Hier volg sy skrywe:

 

“Eish, hoe sê mens iets oor hierdie naweek?

Geseënd, vervullend, bomenslik, wonderlik, pret, diep?

 

Nee, nie genoeg letters in die alfabet om woorde te vorm nie.

 

Saterdagoggend het een en almal met breë glimlaggies aangekom, sommer van die eerste oomblik af met ‘n verwagting (anders as ‘n mannekamp waar die meeste skrikkerig is). Direk na die opening en verwelkoming was dit duidelik dat die gestremdes hierdie kamp ge-”claim” het. Dis HULLE kamp!!!

 

Kenmekaar was ‘n hoop vet pret en chop-chop het bykans almal mekaar se name geken. Wilna se eerste sessie het juis die betekenis van elkeen se naam uitgewys, en dit was ook op hulle naamkaartjies aangebring. Elkeen het ‘n wit klippie gekry waarop hulle name geskryf is en ons het dit by ‘n pragtige kruis buite die saal gaan pak.

 

Daarna het lofprysing gevolg (jitte, hulle kan sing), eet, speel, quad-bike (wow, ‘n wenner), veldry agter op die bakkie,eet, RUGBY!!!!!!, nog eet, en die aand is afgesluit met ‘n geloofsekerheid en vergifnissessie.

Een van die hoogtepunte was oom Dawie (wat op Deo Volente bly) se opvoering van “Dinner for one”. Kyk, oom Dawie is yslik groot, en sy fors gestalte het gesorg vir vet pret. Iewers het ons ‘n lied van Danie Botha (op die wysie van die Bloubul-song) gespeel. Spontaan spring Dusty en Karen (Downs sindroom) op en begin dans soos g’n “breakdanser” kan namaak nie. Woerts-warts toe is die vloer vol jillende, dansende mense.

 Slaap was vet pret. Na krismisbeddens, kombuisslaap, opklouter tot bo in die “loft”, giggel, Johnny wat van sy bed af val, deurmekaar badkamers en ‘n vervlakse hoenderhaan wat se “timing” heeltemal uit is (2 uur begin kraai), het Sondagoggend afgeskop.

 

Koffie en beskuit, toe stiltetyd in die saal en veld , die oggenddiens

(Willem) met nagmaal (Dennis), en weereens eet. Wilna se “gebruik my”-sessie was pragtig. Daarna het ons terugvoer gehou, gegroet (met strome trane) en toe nog gekuier!!!! Niemand was haastig nie. Weer quadbike en veldry op die bakkie beoefen.

 Uiteindelik het dit stil geraak. Ons het besef ons sal nooit weet wat regtig die naweek gebeur het nie, maar ons weet die Here het gewerk. Soos net Hy kan!!! Ons het soveel liefde ontvang van elke persoon wat op die kamp was, gestremdes, sowel as hulle helpers - nog nooit het ons soveel drukkies in so ‘n kort tyd ontvang nie. Opregte liefde het in alle rigtings gevloei.

 Gisteraand in die ateljee het die trane geloop met die sessie op die lug.

Glo nie daar was al ooit so baie mense in die ateljee nie!!!

 

Die mense van Deo Volente Bush adventures was regtig AMAZING. Lofty, Ella en die span het ons vreeslik bederf. Wally en Tina (eienaars) het Saterdagmiddag aangekom en die res van die naweek saamgekuier. Hulle het self nie besef wat nog op hulle plasie gaan gebeur nie, en kan ook nie wag vir die volgende kamp nie.

 

Ons helpers wat saamgegaan het was absolute sterre. Hulle het rondgespring deur die hele naweek om  alles te laat vlot, en ons sou dit NOOIT sonder hulle kon regkry nie. Dennis en Marietjie, Jan en Susaar, en Andre en Martie se gawe van diensbaarheid was oorweldigend. Al drie hierdie pare het ge-”volunteer” om saam te kom sonder dat ons hulle gevra het!!!

 Ons sal nooit weer dieselfde oor gestremde mense dink nie. Hierdie mense se dankbaarheid oor die kleinste dingetjies het ons SO skaam gemaak. Hulle onwrikbare geloof in Jesus en spontane uitlewing van hulle Christenskap was vir ons ‘n enorme lewensles.

 

En dan Rippel. Baie baie dankie dat julle dit moontlik gemaak het. Want deur Rippel kon ons die hele kamp geborg kry en met Gretha se hantering van die geldsake was alles so maklik. Baie baie dankie.

 

Die volgende kamp is vroeg in 2010 en klaar vol. Daar is ‘n waglys!!! Ons het besluit om die kampe nie te groot te maak nie, want ons wil nie hê dat die intimiteit en persoonlike aandag verlore moet gaan nie. Ons dink daaraan om so twee kampe in 2010 te hou.

 

Die Here is goed.

 

Groete.

 

Willem en Wilna.”

 

Kruis-klippies

Kruis-klippies

Pret op 'n bakkie

Pret op 'n bakkie

 

 

Prys die Here! Karen en Dusty.

Prys die Here! Karen en Dusty.

Groet en ken-mekaar

Groet en ken-mekaar

 

Willem Botha en Quintus

Willem Botha en Quintus

 

 

Leave a Reply