Romantiese liefde vergaan gou
Liefde Moet Versorg Word
Romantiese liefde vergaan gou. Dit hou net vir ’n ruk en begin dan kwyn. Dit beteken ons trou almal omdat ons liefhet, maar die liefde bly egter nie vanselfsprekend nie. Die liefde moet versorg en vertroetel word sodat dit kan gedui.
Die huwelik gaan deur verskillende fases. Die eerste fase word gekenmerk deur romantiese liefde wat veroorsaak word deurdat die liggaam ‘n hormoon afskei. Hierdie hormoon is ‘n dopamien, dit beteken dit is ‘n “drug.” Die huwelik gaan nou deur ‘n ekstase fase. Jy konsentreer nou net op die positiewe in jou maat.
Na ‘n ruk se getroude lewe begin jy die negatiewe in jou maat raak sien. Dit is ‘n fase van ontnugtering. Nou word die volgende stelling waar: “Ons moet mekaar liefhê omdat ons met mekaar getrou het.” ’n Vreemde stelling? Nee, helaas nie. Dit beteken, ons moet ’n wilsbesluit neem dat ek my maat sal liefhê, want ek het dit in die teenwoordigheid van God belowe.
Jou belangrikste taak in die huwelik is om jou huweliksmaat lief te hê. Daarom moet ons uithouvermoë hê. Daar gaan moeilike tye kom in julle huwelik. Dit gaan oomblikke wees waar jy regtig gaan wonder hoe jy in die huwelik beland het.
Die geestelike lewe is egter nie ’n kitslewe nie. Ons lewe in ’n kitslewe. Programme op die rekenaar installeer in ’n kits en selfone stuur boodskappe regoor die wêreld in ’n kits. Ons begin verwag dat alles in ’n kits moet geskied. Geestelike groei en verandering in die huwelik vind nie oornag plaas nie. Daar is dikwels konflik, swaarkry en worsteling.
Verhoudings kan ongelukkig net soos ‘n nuwe speelding of ‘n motor wees. Ons raak gewoond aan mekaar en gee nie meer aandag aan mekaar nie. Dinge wat ons altyd aan mekaar gedoen het raak weg of ons raak gewoond daaraan en sien dit nie meer raak nie. Klein krapplekkies word nou skielik groot probleme.
Ons moet egter radikaal liefde teenoor ons huweliksmaats betoon. Soos Christus sy lewe afgelê het vir ons, moet ons ons eie belange aflê ter wille van die huwelik.
Wanneer ons begin om weer aandag aan mekaar te gee, gaan ons huwelik deur ‘n volgende fase. Ons kan die fase, heropbou noem en dan kom ons by ‘n volgende fase, wat ons intimiteit kan noem.
Intimiteit is twee mense wat hul eie identiteit behou, maar emosioneel naby aan mekaar kom en hulle lewens met mekaar deel. Intimiteit is wanneer twee mense waardevol voel by mekaar en hulle voel hulle behoort aan mekaar.
Daarom moet jy aan metodes dink om jou maat te laat weet jy is in my gedagtes. Intimiteit word gebou wanneer jy aan jou maat jou gedagtes en gevoelens openbaar. Intimiteit is wanneer twee mense veilig voel by mekaar.
Julle kan maar jou behoeftes en verwagtings met mekaar deel. Intimiteit is om iets saam met jou maat te doen. Wanneer julle net saam sit en gesels en vriendelikheid en goedheid aan mekaar bewys.