Verborge eienskappe van ‘n gesonde huwelik

Verborge eienskappe van ‘n Gesonde Huwelik

 

Daar is ’n paar eienskappe van ‘n suksesvolle huwelik wat ongesiens verby gaan.

 

Die eerste is ‘n besef dat ons nie in die huwelik werk met absolute waarheid nie, maar met sieninge van die waarheid en belewenisse of persepsies.

 

Die waarheid is ‘n persoon.  In Johannes 14:6 sê Jesus dat hy die waarheid is.  Daar is dus sekerlik waarheid, maar in die huwelik moet ek besef dat die manier waarop ek na dinge kyk dikwels my siening is en nie die waarheid nie.

 

Dit beteken dat die siening wat ek van my maat het, ’n siening is en nie die waarheid nie. Dit beteken ook dat ek dikwels nie so ingestel moet wees daarop dat my mening die regte een is nie.

 

Die tweede ding is dat ek my maat se motiewe moet vertrou.  Dikwels is die manier waarop hy of sy optree nie uit moedswilligheid nie, maar omdat dit sy persoonlikheid is.  Ek moet dus dikwels  aanvaar dat my maat anders gaan optree in sommige situasies as ek.  Wanneer ek begin om my maat se motiewe te vertroue is ek dus minder aanvallend en nie so gou vyandiggesind nie en gebruik ek ook nie aanvallende taal nie.

 

Die derde ding is dat ons baie keer weens ons verhale saam met mekaar in die huwelik, die vertroue verloor dat ons probleme kan oplos.  Ons moet egter daaraan vashou dat probleme opgelos kan word.  Hiermee herhaal ons sommer weer punt een wat ons nou net bespreek het en dit is dat die lewe verskillende hoeke het om na ’n ding te kyk. 

 

Wanneer ons dus begin om oplossings vir ons huwelik te soek moet ons soek na ’n oplossing wat ons huwelik pas, nie ’n oplossing wat vir my pas nie.  Soek dus na ’n toebroodjie oplossing.  Dit is ’n oplossing waar een gedeelte my pas en ’n ander gedeelte pas jou en tussenin is die konfyt wat altwee pas.

 

Die volgende eienskap is bemoediging en empatie. Die lewe daar buite waar julle besig is om te werk het baie druk en stres. Daar is teikendatums wat julle moet haal en die kompetisie is groot. Daarom moet huweliksmaats daarop uit wees om mekaar te bemoedig en aan te moedig.  Spreek julle waardering vir klein dingetjies uit.

 

Die Bybel praat van Barmhartigheid. God is ’n barmhartige God. Kom ons praat van deernis. Ons moet deernis met mekaar hê.  Deernis is ’n emosie wat mense aan mekaar bind. Verstaan dat jou maat ’n mens is soos jy.  Ons het almal stukkende kante aan onsself.

 

Woorde het ’n kragtige uitwerking op mense en so seer as wat negatiewe opmerkings kan maak so soveel krag is daar in woorde wat bemoedig en opbou.

 

’n Volgende eienskap van ’n huwelik wat slaag is paartjies wat regkry om gereeld hulle huwelike te bespreek en doelwitte te bepaal vir hulle huwelike.

 

Leave a Reply