“Vermy giftige kommunikasie”

Die Engelse taal gebruik ’n term “power struggle” om aan te dui dat huweliksmaats mekaar wil verander.  Dit is nie in die eerste plek ‘n stryd om besluitneming nie, maar om jou maat te verander dat hy of sy moet wees soos wat jy graag wil hê jou maat moet wees. Dit beïnvloed later egter jou gesindheid teenoor jou maat en jou maat se gesindheid teenoor jou.  Dit beïnvloed ook julle kommunikasie met mekaar.

 

Jy maak meer en meer gebruik van giftige kommunikasie tegnieke. Ons reeds gesê dat jy jou maat kritiseer, manipuleer of gebruik maak van kerm of neul. Ons het ook gesê as jy iets van jou maat wil hê of ‘n verandering wil vra moenie gebruik maak van skimpe, wonder of wens nie.

 

Terloops, as jy wil vra vir ‘n verandering by jou maat, moenie vra vir ‘n verandering in persoonlikheid nie, vra vir ‘n verandering in gedrag.  Die verandering is net makliker. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld.

 

Jy sou byvoorbeeld sê (met kwaai stemtoon om te kritiseer):  “Ek wens jy was meer liefdevol.”  Die probleem met die term liefdevol is dat sekere persoonlikhede, kom ons noem hulle “dutyfullfillers,” se liefde bewys word deur wat hulle vir jou doen.  Jou stelling slaan hulle stom. Vra dus vir die gedrag wat jy wil hê: “Kom hou my ‘n bietjie vas” of  “Kom sit bietjie hier by my.’

 

Nog ‘n voorbeeld: “Ek wens jy wil minder slordig wees.”  Ouens soos ek sal frons as jy so sê, want in ons koppe is ons nie slordig nie. Jy het nog nie gesien hoe lyk slordig nie, want my netheid begin waar my vrou se slordigheid ophou.  Sy is van netheid aanmekaar gesit.

 

Nog ‘n faset van giftige kommunikasie wat hierdie sinne na vore gebruik het is om iemand te etiketteer (”label and shame”).  “Jy is regtig onnosel” is mans se geliefkoosde stelling.  “Jy is ‘n regte buffel van ‘n man” sê die vrou verkeerdelik vir haar man. Vermy die tipe stellings jy bereik niks, jy breek net af.  Jy hoop dat jou maat sal skaam kry vir die gedrag en verander, maar dit veroorsaak net afstand en breek vertroue af.

 

Moet ook nie van “oorkruis” gesprekke gebruik maak nie.  ‘n Man sê byvoorbeeld vir sy vrou: “Jy het natuurlik van die simpel fliek gehou.”  Wat sê hy daarmee? Sy is simpel, want hy weet sy het van die fliek gehou.  Haal die giftige angel uit jou kommunikasie uit.  Hy kon sê: “Het jy van die fliek gehou? Ek het nie so baie daarvan gehou nie.”

 

Praat dus eers van jouself en vra na jou maat se mening.  Jou maat het alle reg op haar of sy mening.

Onthou in die huwelik werk ons nie met waarheid nie, maar net met persepsies, sieninge of belewenisse. Die waarheid het ons gesê is ‘n persoon.

 

Ek dink daar is twee teksverse (daar is sekerlik nog ander ook) wat ons kan help. Die een is Spreuke 15:1 “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam”  en die ander is Jakobus 1:26 “As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.”

 

 

Kom ons laat mekaar veilig voel deur mooi te praat.  Gaan dink bietjie. Hoe kan jy anders praat met jou maat. Neem jou voor om andrs te praat.

 

Groete in Christus

Riaan

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply