Vir mammas en oumas…

Opgedra aan Moeders en Oumas op Moedersdag :

 

Uit die boek : “Die groot storiesboek”

Tydlose vertellings oor lewenswaardes en die waarde van die lewe.

Uitgewers : LUX-Verbi

Beskikbaar by CUM

 

Brief aan my mees geliefde kind (Oor Moederliefde)

 

Liewe Eersteling,

Ek was nog altyd vir jou die liefste, want jy was ons eerste wonderwerkie. Jy was die beginpunt van ons huwelik en die vervulling van ons jong liefde. Jy het ons gedra deur die hamburgerjare, daardie eerste woonplekkie, ons eerste ryding (‘n 1980-Volksie) en die 17cm-TV waaraan ons ses en dertig maande lank afbetaal het. Jy was ‘n nuutjie en jy het splinternuwe grootouers gehad….asook genoeg klere vir ‘n drieling. Jy was die toetsmodel vir ‘n ma en pa wat nog die fynere besonderhede aan’t uitwerk was.

By jou het alles begin.

Mamma

 

Liewe Middelkind,

Ek was nog altyd vir jou die liefste, want jy moes op ‘n moeilike plek in die gesin inpas, maar dit het jou sterker anderkant laat uitkom. Jy het minder gehuil, meer geduld betoon, verbleikte tweedehandse klere gedra en nooit in jou lewetjie was jy die eerste een wat iets kon regkry nie. Maar dit het jou net meer besonders gemaak. Jy was die een met wie ons ontspan het. Met jou het ons al uit ervaring geweet ‘n hond kan jou maar soen, jy sal nie siek raak nie. Ons het jou toegelaat om die straat op jou eie oor te steek lank voordat jy uodgenoeg was om te trou. En jy het ons gehelp insien dat die wêreld nie sal ophou draai as jy met vuil voete gaan slaap nie. Jy was die kind van ons bedrywige, gedrewe jare. Sonder jou sou ons nooit die skuiwe by die werk of die sleur en roetine van getroud-wees kon oorleef nie.

Mamma.

 

Liewe Baba

Ek was nog altyd vir jou die liefste, want alhoewel “die einde” gewoonlik iets hartseer is, is jy SO ‘n vreugde. Jy was doodtevrede met die borslappe met die melkvlekke, die onderste slaapbank, die gekraakte krieketkolf en die bababoek waarin niks moois eens voorin geskryf is nie – behalwe ‘n uitgeskeurde resep wat iemand sommer argeloos tussen die bladsye ingedruk het. Jy is die een aan wie ons so styf vasgehou het, want jy is die skakel met ons verlede en ‘n rede vir ons more. Jy maak ons hare sommer weer donkerder, ons treëvinniger, ons skouers meer reguit en ons visie skerper….en jy gee ons ‘n sin vir humor, waarmee nie sekuriteit, rypheid of uithouvermoë ons sou kon seen nie. Selfs wanneer jou haarlyn begin terugsuif en jou kinders al oor jou uittroon, sal jy nog steeds ons baba bly.

Mamma

 

Leave a Reply