“Vyf vlakke van kommunikasie”
Vyf Vlakke Van Kommunikasie
Hoe weet jy wanneer ’n paartjie in die restaurant getroud is? Hulle het niks om vir mekaar te sê nie.
Hoe weet jy dat die ander paartjie nog net uitgaan? Hulle kyk in mekaar se oë en vra mekaar uit. Hulle probeer soveel as moontlik van mekaar te wete kom.
In die begin van ons huwelik is ons nog baie bewus van mekaar en ons kommunikeer nog gereeld met mekaar, maar ons begin later by mekaar verby leef en aanvaar dat ons mekaar ken.
‘n Mens kry dus in die huwelik vyf vlakke van kommunikasie. Hierdie vlakke hang af van die vlak van intimiteit waar ons huwelik op daardie moment verkeer. Hoe vêr laat jy jou maat toe in jou lewe. Onthou jy ek het verlede gekeer gesê die huwelik is nie kommunikasie nie, die huwelik is intimiteit, maar kommunikasie bepaal die tipe intimiteit wat ons gaan hê.
Die eerste vlak in kommunikasie is ‘n alledaagse gesprek en tussen huweliksmaats meestal net ‘n groet en effense vra na jou welstand. Dikwels is dit meer net geluide wat nee of ja kan beteken. Dit gebeur regtig as ons net nie meer tyd aan mekaar spandeer nie dat ons vir mekaar vreemdelinge word. Hierdie vlak is die vlak waarop ons met vreemdelinge gesels oor die weer en oor alledaagse gebrabbel (small talk).
Die tweede vlak van kommunikasie het te doen met feite mededeling. Wat gebeur het deur die dag en niemand kan daarmee verskil nie, want daar is nie iets om oor te verskil nie. Jy kan vir jou maat vra of dit goed gaan net soos jy vir iemand by die kantoor vra of dit goed gaan. Sonder om ‘n antwoord terug te verwag.
Die derde vlak van kommunikasie begin nou al nader beweeg aan intimiteit, want nou begin ons om ons idees met mekaar uit te ruil. Dit is nog steeds veilig om op die vlak te kommunikeer, want daar kan nie maklik konflik ontstaan nie. Ons ruil dus maklik feite uit, maar min wat direk met die huwelik te doen het of so dat dit nie konflik uitlok nie: “Wil jy graag kinders hê?” Ek het nie die moed om jou te vra om kinders en ons toekoms te bespreek nie en daarom vra ek dit neutraal. Jy gee net so ‘n neutrale antwoord: “ Nee, ek het nog nie so daaraan gedink nie. Miskien eendag as ons geld het.”
Die vierde vlak is meestal die vlak waar intimiteit ontstaan en gehandhaaf word. Ons begin nou om ons gevoelens met mekaar te deel. Ons is nie so daarop ingestel om ons gevoelens of emosies aan enige mens te wys nie. Indien ons in die huwelik intimiteit wil bereik sal ons moet leer om ons emosies te formuleer en uit te spreek op so ‘n manier dat dit ons maats help om ons te verstaan. Intimiteit gaan juis daaroor dat my maat veilig voel by my om haar of sy gevoelens en emosies met my te deel. Jou maat kan volledig mens wees by jou – emosies en al.
Die vyfde vlak is die vlak waar ons kommunikeer dat jy totaal en al veilig is by my. Jy kan jou seerkry met my deel. Jy kan jou vrese met my deel. Dit beteken egter ook dat ek by diepste wense vreugdes, verlangens en fantasieë met jou kan deel.
Ons het ‘n ons-benadering. Ons voel ons behoort aan mekaar en het tuis gekom. Ons het ‘n plek.
Lees weer 1 Joh 4:18: Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.
Kom ons laat mekaar veilig voel.
Riaan Pienaar