“Woorde wat bou”

Dagsê,

 

Ons het al gesê, kommunikasie kan nooit ‘n doel op sigself wees nie.  Kommunikasie in die huwelik is ‘n interaksie tussen twee mense wat hulle moet help om ‘n brug te bou tussen die twee se unieke leefwêrelde en ‘n nuwe, gedeelde leefwêreld te skep.  Wanneer huweliksmaats veilig voel by mekaar reg het op hulle mening en hulle verskille kan vier en geniet dan ontstaan daar ‘n ons-gevoel of anders gesê, intimiteit.

 

Voor ons getroud is het ons liefgeraak vir ons maats omdat hulle sekere eienskappe gehad het wat ons aangetrek het.  Ons het baie op die eienskappe gefokus en dikwels nie die ander eienskappe raakgesien nie.  Wanneer ons trou stap ons in die huwelik in met prentjies en verwagtings wat gaan gebeur in ons huwelik en hoe ons maats aan ons behoeftes en verwagtings gaan aandag gee.  Dan gebeur dit nie altyd nie en dan probeer ons om ons maats te verander soos ons wil hê hulle moet wees.

 

Ons maak dan gebruik van verskillende tegnieke. Ons probeer ons maats verander deur kritiek of ons blameer hulle omdat hulle nie wil doen wat ons wil hê nie.  Dikwels maak ons gebruik van klaagliedere of ons begin om te neul of te kerm.  Ons dreig ons maats of ons probeer hulle straf en somtyds kyk ons of ons hulle nie kan omkoop nie en as dit nie werk nie dan dwing ons ons behoeftes af.

 

En dit is waarom ek in die begin gesê het. Terugvoer of kommunikasie is een van die pilare van ‘n gesonde huwelik. Om terugvoer te gee is om vir jou maat te sê: “Dit is my behoefte of verwagting.”

 

Vir kommunikasie om te slaag moet daar ‘n gesindheid wees van albei maats dat my maat  se behoeftes en verwagtings vir my belangrik is.  En dat ek graag wil hoor wat my maat sê. Wat is die terugvoer wat my maat my gee oor haar of sy behoeftes? Twee teksverse wat ook belangrik is wat ons kan aanhaal is:

 

1 Joh. 4:18  Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

 

Phil 2:4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

 

Dit beteken dat as my maat praat ek so sal aandag gee aan wat my maat sê dat my maat die belewenis het dat sy of hy veilig is by my en dat ek my maat se belange op die hart dra.

 

Ons moet versigtig wees met kommunikasie, want wat gesê is is gesê. Ons as christene het ’n goeie voorbeeld in Christus van iemand wat totaal en al vergewe en vir ons vergifnis gesterf het.  Ons weet ons gaan dinge verkeerd sê en daarom gaan vertroue in die huwelik ook oor die feit dat ek weet ek kan staat maak op die vergifnis an my maat indien ek ’n fout maak en iets verkeerds sê.

 

Ons het egter ook in Christus ’n voorbeeld van iemand wat sy woorde reg gebruik het.

Paulus sê in Ef. 4:29: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”

 

Kom ons laat mekaar veilig voel.

 

Riaan Pienaar

Leave a Reply